Beroepe

Internskappe help jonges om poste te kry

Pas gegradueerdes dink dalk hulle is reg vir die werkplek, maar ervare werknemers dink nie so nie.

Motshabi Nomvethe.Foto: PPS
Motshabi Nomvethe.Foto: PPS ( Henry Brink (www.henrybrink.co.)

PPS het in sy studentevertroueindeks vir 2017 bevind

80% van Suid-Afrikaanse studente meen hul graad berei hulle voldoende voor op hul beroep.

PPS se nagraadse professionele indeks wys egter net 23% van professionele persone deel dié siening.

"Studente wat pas hul studies voltooi het, kry dikwels 'n skok wanneer hulle begin werk.

"Hulle vind uit hulle was nie eintlik voorberei op die vereistes en uitdagings van die werkende wêreld nie," sê Motshabi Nomvethe, tegniese bemarkingsdeskundige by PPS.

"Daar is baie moontlike redes hiervoor.

"Eerstens is daar die ‘sagte vaardighede', of persoonlike eienskappe, wat 'n professionele omgewing verg wat eenvoudig nie op universiteit aangebied word nie.

"Sagte vaardighede sluit in kommunikasievermoë, ontledende denke, om 'n spanspeler te wees, vertroue, netwerkvermoëns, saketaal, aanbiedingstegnieke, tydsbestuur, en die vermoë om sperdatums te haal."

Maar harde vaardighede is 'n nog groter uitdaging, sê sy.

"Daar is 'n kloof tussen die teorie wat tersiêre instellings leer en die praktiese toepassing daarvan in die werkplek." Nomvethe sê dit is hoekom internskappe en mentorskapprogramme baie waarde het.

Luidens die peiling besef 92% van die studente vrywillige werk of internskappe verbeter hul kans om werk te kry.

"Internskappe is 'n wen-wen-situasie vir die gegradueerdes sowel as die werkplek. Die gegradueerdes kry eerstehandse werkervaring en word makliker in diens geneem, en die werkplek kry vaardighede teen 'n minimale koste. Dit verg net tyd, geduld en toewyding van albei partye," sê Nomvethe.

Hoe gouer jong mense werkervaring opdoen, hoe waarskynliker sal hulle voorbereid wees om die oorgang na die werkplek te maak, sê Nomvethe.

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM