Beroepe

Is werk van die huis af hier om te bly?

Is dit die nuwe normaal om van die huis af te werk?

Werk van die huis af is duidelik nie die nuwe normaal nie. Foto: Unsplash
Werk van die huis af is duidelik nie die nuwe normaal nie. Foto: Unsplash

'n Nuwe peiling onder Suid-Afrikaanse maatskappye van die internasionale konsultantefirma Willis Towers Watson (WTW), het bevind hoewel werknemers op vlak 3 van die staat van inperking streng gesproke op kantoor mag wees, werk baie mense steeds van die huis af.

Byna die helfte van die respondente (47%) het gesê minstens 75% van hul arbeidsmag werk nou van die huis af, teen net 2% voor die krisis. Voor die staat van inperking het 78% van ondernemings gesê minder as 10% van hul arbeidsmag werk van die huis af.

Volgens Melanie Trollip, 'n direkteur van WTW in Suid-Afrika, gaan die tendens nie omkeer wanneer die staat van inperking beëindig word nie.

Dit was reeds voor die staat van inperking 'n groeiende tendens dat werknemers van die huis af werk, maar "Covid-19 het die tendens turboaangejaag", het Trollip Woensdag in 'n verklaring gesê.

"Hierdie is 'n langtermynverskuiwing van werktendense wat langer as die pandemie sal voortduur aangesien dit baie voordele inhou ten opsigte van personeel-buigsaamheid, verbeterde doeltreffendheid en laer eiendomskoste."

Sowat 72% van respondente sê hulle het geen idee hoe lank die huidige werksituasie sal voortduur nie.

Die verskuiwing na tuiswerk is egter nie vir almal positief nie.

Meer as 'n derde (35%) van respondente het gesê hul produktiwiteit het verswak. Net 18% sê produktiwiteit het verbeter, terwyl 34% geen noemenswaardige verandering in produktiwiteit ervaar het nie.

Trollip skryf swakker produktiwiteit toe aan onduidelike doelwitte, swak IT-stelsels en lae personeelbetrokkenheid.

Die peiling wys ook dat maatskappye gereeld kommunikeer met hul werknemers (94%), terwyl 91% van sosiale kanale soos Teams en WhatsApp gebruik maak vir kommunikasie. Minder van hulle luister egter na hul werknemers, met net 30% van respondente wat peilings onder hul arbeidsmag gedoen het sedert die staat van inperking begin het.

"Hulle moet na hul werknemers luister om te verstaan wat werk en wat werk nie," sê Trollip.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM