
Jou kans om onder Suid-Afrika se superrykes te val, blyk groter te wees as jy in die regte gestudeer het.
Dit blyk uit die jongste welvaartverslag wat AfrAsia Bank tesame met sy navorsingsvennoot New World Wealth onlangs uitgereik het.
Die verslag kyk onder meer na neigings onder ryk Suid-Afrikaanse individue, soos watter beroepe en studierigtings die meeste superrykes oplewer.
Benewens die regte, het individue wat handel en rekeningkunde gestudeer het ook 'n goeie kans om baie geld te verdien. Nagraadse studie speel egter nie 'n groot rol in die hoeveelheid rande wat inrol nie.
Die verslag toon dat die meeste superryk individue (68%) 'n voorgraadse kwalifikasie het, terwyl 27% ook oor 'n nagraadse kwalifikasie beskik.
Die studie wys voorts dat die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Kaapstad die meeste superryk individue opgelewer het, met onderskeidelik 20% en 19% van graduandi.





















