
Werkgewers moet deur middel van risikobepalings en die identifikasie van gevare die basiese dinge reg doen om vas te stel hoe groot die risiko in hul werkplek is dat hul werknemers aan die koronavirus blootgestel kan word, sê die departement van indiensneming en arbeid.
Die voorskrifte van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid moet gevolg word, het die departement Dinsdag in 'n verklaring gesê.
Art. 8(2)(b) van dié wet bepaal dat redelike praktiese stappe eers gedoen moet word om enige gevaar of potensiële gevaar te verwyder of te versag voordat persoonlike beskermende toerusting gebruik word. In die geval van die koronavirus is 'n kombinasie van beheermaatreëls egter nodig. Voordat beheermaatreëls ingestel word, moet huidige risikoberamings hersien en bygewerk word, met inagneming van die nuwe gevare wat die koronavirus in die werkplek inhou.
Die departement vra dat werkgewers hul werknemers beskerm van gevare deur:
- doeltreffende lugsuiweraars te installeer;
- ventilasie in die werkomgewing te verbeter;
- siek werkers aan te moedig om tuis te bly;
- kontak tussen werkers onderling en met kliënte te beperk;
- die aantal werkers in die werkplek op enige gegewe tyd te beperk deur rotasie en skofwerk in te stel;
- noodkommunikasieplanne op te stel;
- werkers oplei in die korrekte hoes-etiket en in die gebruik van persoonlike beskermende toerusting;
- hulpbronne te voorsien vir beter persoonlike higiëne soos vullishouers met deksels wat nie aangeraak hoef te word nie, handseep en handreiniger met 'n alkoholinhoud;
- persoonlike beskermende toerusting te voorsien soos handskoene, veiligheidsbrille, gesigskerms, gesigmaskers, jasse, voorskote, oorpakke, haar- en skoenbedekkings en respiratoriese beskerming waar van toepassing.
Volgens die departement sal sy arbeidsentra oopbly, maar die toue by dié sentra sal bestuur word sodat nie meer as 100 mense op 'n keer daar byeen is nie.


















