Beroepe

Mediclinic maan oor werksoek-slenter

'n Bedrogspul waarin Mediclinic valslik by 'n werksoek-slenter betrek word, het die hospitaalgroep genoop om die publiek daarteen te waarsku.

Volgens Tertia Kruger, kommunikasiebestuurder, word die vals poste op sosiale media geadverteer.

Mediclinic Gariep word by 'n werksoekslenter betrek. Die hospitaalgroep waarsku die publiek dat vals poste op sosiale media geadverteer word. Foto: Emile Hendricks
Mediclinic Gariep word by 'n werksoekslenter betrek. Die hospitaalgroep waarsku die publiek dat vals poste op sosiale media geadverteer word. Foto: Emile Hendricks

Twee van die maatskappy se hospitale, die Mediclinic Gariep en die Mediclinic Kimberley, word betrek.

Die poste wat geadverteer word, sluit tegnici, verpleërs, sekuriteitsbeamptes, portiere en administratiewe beamptes in.

"Die modus operandi behels dat belangstellendes wat aansoek doen of opgelei wil word, geld deur informele geldmarkkanale wat aan selfoonnommers gekoppel is, betaal.

"Mediclinic sal nooit vereis dat aansoekers geld moet betaal as deel van die proses nie.

"Ons distansieer ons van enige slenter en versoek mense wat vir ons maatskappy wil werk, om regstreeks deur ons webwerf aansoek te doen.

"Mense moet op die uitkyk wees vir aanduidings dat dit 'n slenter is."

Die aanduidings is dat aansoekers moet betaal om aansoek te doen, of bankbesonderhede moet verskaf, dat selfone gebel moet word weens landlyne wat kwansuis buite werking is, die afwesigheid van 'n werkonderhoud, handelsname wat vreemd voorkom soos Medi-clinic, en die gebruik van etlike maatskappy-logo's op briefhoofde wat amptelik voorkom.

Enigeen wat die geldigheid van advertensies wil nagaan, kan Mediclinic se personeelafdeling by 021 943 6111 bel of 'n e-pos aan talentacquisition@Mediclinic.co.za stuur. Belangstellendes kan ook enige van Mediclinic se hospitale besoek en navraag doen.

Charné Kemp

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM