
Minder as die helfte (45%) van ondernemings reken hulle gaan oor die volgende ses maande meer mense aanstel.
Dít ondanks die feit dat die meerderheid (onderskeidelik 60% en 59% van respondente) verwag dat verkope en nuwe bestellings oor die volgende ses maande sal verbeter.
Dis volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN), wat sy indeks van handelstoestande vir September uitgereik het. Die indeks wys toestande het in dié maand gestyg.
Die SAKKN waarsku egter dat die syfers meer positief lyk as wat dit is, juis omdat heelwat ondernemings tydens die inperking ondergegaan het. Die ondernemings wat staande gebly het, is dié wat wel flinker sake doen.
Die indeks staan nou op 47 punte, teenoor 37 in Julie en 41 in Augustus. Seisoensaangepas is die indeks 50, wat beteken 50% van respondente het beter handelstoestande as in Augustus beleef. Net 31% beleef egter beter toestande as in September 2019.
'n Hele 56% reken handelstoestande gaan oor die volgende ses maande verbeter.
Die meeste ondernemings (57%) se verkoopsvolumes het in September verbeter, maar net 48% sê nuwe bestellings het gestyg. Dit wil voorkom asof daar steeds oponthoude by verskaffers is.




















