Die maande lange haakplekke en frustrasie oor onderbrekings in die beskikbaarheid van die bygewerkte elektroniese uFiling-stelsel, behoort middel Junie uitgestryk te wees, beloof die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

Werkgewers of konsultante wat werkers se besonderhede maandeliks op die elektroniese stelsel moet invul om werkloosheidsversekeringsbydraes te kan betaal, en werkloses wat van die WVF kan eis, is skepties hieroor nadat die WVF voorheen beloof het al die tegniese probleme sou op 1 April uitgestryk wees.
Rapport het die laaste twee maande talle klagtes van werkgewers en konsultante ontvang. uFiling is a gratis aanlyn diens van die WVF waar werkgewers hul WVF-verklaring oor werknemers se salarisse invul en hul maandelikse bydraes aan die fonds betaal.
Sedert Februarie was uFiling gereeld nie beskikbaar nie. Wanneer dit wel beskikbaar was, kon werknemers nie data oor werkers se salarisse invul nie en kon betalings of terugbetalings dus nie bereken word nie.
Sommige kon drie maande lank geen inligting oplaai nie. Daar is ook kommer dat historiese data blykbaar nie meer beskikbaar is nie, of dat werkgewers nie weet waar om dit te kry nie.
Een konsultant het gekla dat die spelling van voorstede op uFiling verskil, wat dit moeilik maak om besonderhede in te vul sonder om 'n foutboodskap op die skerm te kry. Selfs adresse wat op een plek aanvaar word, word nie op 'n volgende reël aanvaar nie.
Makhosonke Buthelezi, direkteur van kommunikasie by die WVF, het dié week gesê die tegniese probleme en veranderinge aan die stelsel is opgelos.
Volgens hom sou die meeste haakplekke teen Vrydag iets van die verlede wees.
Volgens Jetro Malapane van die Betaalstaatvereniging van Suid-Afrika het probleme begin toe die stelsel vanjaar gemoderniseer is en die WVF se datasentrum na 'n nuwe perseel moes skuif. Klaers sê menige onbeantwoorde oproepe na die oproepsentrum het die situasie net vererger. Soms moes inbellers tevrede wees met 'n vooraf opgeneemde boodskap dat oproepe nie vir "die volgende twee uur" beantwoord kan word nie.
Buthelezi sê die oproepsentrum het die laaste twee maande nagenoeg 27 000 klagtes hanteer.
'n Werkgewer het gekla weens die eindelose probleme met die stelsel, kon hulle sedert Februarie nie hul bydraes betaal nie. Buthelezi sê daar is nou voorsiening gemaak om vorige maande se betalings te doen.
Hy sê historiese data is nie verlore nie, maar die proses om dit op te roep, verskil nou. "Omdat dit 'n nuwe stelsel is, sal sekere gebruikers nog sukkel om te navigeer en daarom lei ons personeel op om gebruikers te help."
Konsultante wat inligting namens werkgewers invoer, kla dat die nuwe stelsel 'n nuwe wagwoord vereis (al is jy 'n geregistreerde gebruiker) en dat die generiese wagwoord nie by hulle uitkom nie.
Die WVF het dit bevestig, maar sê voorheen was daar probleme met konsultante wat namens werkgewers aan van die werkgewers se inligting getorring het sonder hul toestemming. Die verbeterde stelsel vereis nou toestemming van werkgewers.
Buthelezi sê individuele kwessies kan aangemeld word by adminchangerequest@labour.gov.za.


















