Beroepe

Nee, jy mag nié eie werkure kies

Jy kan regtig nie jou eie werksure bepaal nie, het 'n voormalige Absa-werknemer op die harde manier geleer.

Hoeveel oortyd werk jy - en moet jy daarvoor vergoed word? Wel, dit hang af hoeveel jy verdien! Foto: iStock
Hoeveel oortyd werk jy - en moet jy daarvoor vergoed word? Wel, dit hang af hoeveel jy verdien! Foto: iStock

Fiona Kock is as 'n spesialis in gehaltebeheer afgedank omdat sy daarop aangedring het om van 07:30 tot 16:00 te werk, terwyl haar baas gesê het sy moet van 08:00 tot 16:30 werk.

Kock het haar afdanking in die arbeidshof uitgedaag, maar die hof het nou beslis sy mag nie haar werk terugkry nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het ook voor dit bevind dat haar afdanking billik was.

Kock, van Johannesburg, het amper nege jaar vir Absa gewerk.

Die bank het haar op 25 September 2015 in die pad gesteek op 'n klag van deurlopende ongehoorsaamheid.

Haar lynhoof by Absa was Edward Africa. Toe Africa in November 2013 by die gehaltebeheerafdeling aangesluit het, was die amptelike werksure 08:00 tot 16:30. Daar was ook twee ander stelle werkure - van 07:00 tot 15:30 en van 07:30 tot 16:00 - wat toegeken is as 'n vergunning aan personeellede wat individuele reëlings getref het.

Africa het gesien Kock hou nie by die alternatiewe werkure wat sy toegelaat is nie en sy het gereeld laat by die werk opgedaag.

Die spesiale werkure-reëling is in 2014 van haar weggeneem en sy moes die normale en voorgeskrewe 08:00 tot 16:30 werk.

Kock het egter ná Januarie 2015 self besluit sy gaan terugkeer na 07:30 tot 16:00. Sy het haar lynhoof nooit hiervan gesê nie. Africa het in Mei 2015 aan haar gesê dis nie 'n fleksietyd-werksomgewing nie en sy moet dadelik ophou werk toe kom soos sy lus voel.

Dit het 'n e-pos-geveg ontketen, maar sy het geweier om sy opdrag uit te voer.

Toe sy met stappe gedreig is, het sy aan Africa gesê: "Doen wat jy wil."

Kock het aangehou om te werk van 07:30 tot 16:00. Dit het gelei tot 'n finale waarskuwing in Julie 2015 en 'n tugverhoor op 22 September daardie jaar.

Toe sy daarna haar lot by die KVBA gaan bekla het, het die arbiter bevind haar wangedrag was ernstig en haar optrede opsetlik en herhaaldelik. Sy het haar bestuurder uitgetart, het die arbiter gesê.

Kock het daarna in die arbeidshof haar werk teruggevra en gesê dat die skriftelike waarskuwing aan haar 'n "patroon van viktimisasie" bewys het.

Die arbeidshof het gesê as 'n werknemer sy werkgewer se gesag verontagsaam, veral wanneer ander werknemers by is, kan daar nie van die werkgewer verwag word om sulke gedrag te verdra nie. Die verhouding van wedersydse vertroue en respek is die kern van 'n meester-onderdaan-verhouding en die verhouding kan nie in sulke omstandighede voortduur nie.

Die soort ongehoorsaamheid wat deur Kock gepleeg is, sou per se afbreuk gedoen het aan die verhouding.

Maar net op grond van die erns van haar wangedrag alleen het sy haar afdanking verdien.

Jeanne-Marié Versluis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM