
Hoewel sommige organisasies stappe doen om die aantal vroue in uitvoerende poste te verhoog, is vordering steeds stadig.
Daar is net een vrou in die pos van uitvoerende hoof van een van die land se voorste 40 maatskappye - Maria Ramos van Absa, volgens die nuutste PwC-verslag oor uitvoerende direkteure se vergoeding en praktyke.
In 2017 is net 28% van senior bestuursrolle in Suid-Afrikaanse ondernemings deur vroue beklee, volgens 'n Grant Thornton-verslag oor vroue in die sakewêreld wat verlede jaar uitgereik is.
Hoewel die persentasie hoër is as in 2016, is daar in die 13 jaar sedert die peiling vir die eerste keer gedoen is nie veel verbetering op die 26% in 2004 nie.
Wat geslagsgelykheid betref, het die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se verslag wat in 2017 uitgereik is, Suid-Afrika 17de uit 136 lande geplaas. Dis ondanks 'n Grondwet wat gelyke regte waarborg.
Daar is bevind dat net 18% van die maatskappye wat op die AltX, die JSE se alternatiewe beurs, genoteer is, vroue as uitvoerende hoofde het. In die finansiëledienstesektor is 72% van die uitvoerende bestuurslui mans en net 28% is vroue.
Dan is daar ook die kwessie van gelyke betaling vir gelyke werk - die marknavorsingsmaatskappy Ipsos het in 2017 bevind dat Suid-Afrikaanse vroue gemiddeld 27% minder as hul manlike eweknieë verdien.
Die WEF-navorsing het bevind dat vroue se bydrae tot die internasionale bruto binnelandse produk (BBP) net 37% is. As daar op ekonomiese vlak gelykheid kom, kan die wêreldwye BBP met tot $5 300 miljard teen 2025 uitgebrei word.
Volgens dié navorsing is 68% van die internasionale geslagsgaping in 2017 toegemaak, wat laer is as die persentasie wat in 2015 en 2016 aangeteken is.
Die verslag bereken volgens die huidige vorderingskoers sal die geslagsgaping in die werkplek eers oor 217 jaar toegemaak word.
Tog kan gelykheid aansienlike ekonomiese voordele inhou.
"Wanneer vroue nie op 'n gelyke grondslag in die ekonomieë geïntegreer word nie, ontbeer die internasionale gemeenskap vaardighede, idees en perspektiewe wat noodsaaklik is om wêreldwye uitdagings aan te pak en nuwe geleenthede te ontgin," sê Shirley Machaba, PwC in Afrika se leier van diversiteit en insluiting.

Sy sê die deelname van mans én vroue in die arbeidsmag is deurslaggewend vir die volhoubaarheid van ondernemings en ekonomieë.
"Maatskappye wat vrouetalent doeltreffend aanwend, is 45% meer geneig om hul markaandeel te verbeter, volgens internasionale navorsing," sê Machaba.
Sy sê volgens PwC en ekonome se berekenings kan gelyke betaling en verteenwoordiging in die Suid-Afrikaanse werkplek die land se BBP 'n hupstoot van tot 3,2% gee.
Sy het 'n beroep op maatskappye gedoen om geslagsdiversiteit in die werkplek te bevorder.
"Ons het te min vroue in bestuursposte. Totdat ons die balans verander, gaan dit moeilik wees vir vroue om 'n impak op verandering te hê."




















