Beroepe

Nuwe ‘multiversiteit’ vir Kaapstad beplan

Chris van der Merwe
Chris van der Merwe

Die genoteerde Stadio wil binnekort 'n nuwe tersiêre instelling in Durbanville naby Kaapstad bou.

Die maatskappy sê Woensdag in 'n verklaring hy is reeds in gesprek met die departement van hoër onderwys om sy Stadio-multiversiteit as 'n private tersiêre instelling te registreer.

Hy wil die eerste kampus van dié multiversiteit in Durbanville bou.

Stadio was voorheen deel van die Curro-groep.

Hy het egter in 2017 ontbondel en as aparte maatskappy op die JSE genoteer.

Dr Chris van der Merwe, uitvoerende hoof van Stadio, het aan aandeelhouers wat sy algemene jaarvergadering bygewoon het gesê die instansie sal 'n groot fokus op tegnologie plaas.

Van der Merwe sê daar is ongetwyfeld aanvraag vir meer tersiêre instansies in Suid-Afrika.

Hy wys daarop dat die getal studente wat as eerstejaars by tersiêre instansies geregistreer het van sowat 557 000 in 2000 tot sowat 1,2 miljoen in 2016 toegeneem het.

"Van die 1,2 miljoen, het net 167 408 by private instansies geregistreer. Dit beteken net sowat 15% van die totale getal studente het by die instansies geregistreer. Dit is teenoor die wêreldwye gemiddeld van sowat 35%," sê hy.

Hy sê boonop het universiteite bloot net nie genoeg spasie om al die studente wat wel vir tersiêre onderrig kwalifiseer te hanteer nie.

"Hoewel ons nie akkurate getalle het nie, weet ons daar is duisende jong mense wat die vermoë het om verder te studeer, maar hulle kry nie plek by bestaande instansies nie," sê hy.

Die plan is dat die Stadio-multiversiteit oorspronklik teen 2026 plek vir 56 000 studente sal hê by verskeie kampusse wat beplan word en mettertyd sowat 100 000 studente sal kan akkommodeer.

Die maatskappy wil iewers in 2019 of in 2020 met konstruksie van sy kampus in Durbanville begin.

Hy kyk ook om moontlik 'n kampus in Gauteng te bou en het reeds 'n moontlike perseel vir só 'n kampus geïdentifiseer.

Sou hy dié kampus bou, is die plan dat hy tussen 3 000 en 5 000 studente sal akkommodeer.

Van der Merwe sê die groep beplan - as alles goed gaan - om teen 2030 ses fakulteite met meer as 100 verskillende kwalifikasies te bedryf.

Die fakulteite sal op handel, bestuur en regte, 'n sakeskool, kreatiewe ekonomie, onderwys en geesteswetenskappe, ingenieurswese en informatika sowel as landbou en omgewingstudies fokus.

Van der Merwe sê weens die tegnologie sal studente buite Suid-Afrika se grense ook by die multiversiteit kan studeer.

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM