Youlandé Prinsloo is 'n arbeidspesialis. Vrae oor arbeidsprobleme kan aan haar gerig word by youlande@ylabour.co.za of 011 867 1864. Besoek ook haar webblad by www.ylabour.co.za vir meer inligting.
Pa's en ma's het dieselfde regte

Vraag:
Wat is my regte as werkende pa ten opsigte van gesinsverantwoordelikheidsverlof? Mag ek ook gesinsverantwoordelikheidsverlof neem as my kind siek is of word dit slegs aan ma's toegestaan?
Antwoord:
Jy as pa is net soos enige vrou of ma geregtig op gesinsverantwoordelikheidsverlof. Art. 27 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (wet 75 van 1997) maak nie onderskeid tussen mans en vroue of ma's en pa's nie.
Art. 27 van genoemde wet bepaal dat gesinsverantwoordelikheidsverlof (met betrekking tot kinders) geneem word wanneer:
- Jou kind gebore word; of
- Jou kind siek is.
Jy as pa sal geregtig wees op gesinsverantwoordelikheidsverlof van drie dae vir die geboorte van jou kind of drie dae indien jou kind siek is en jy tyd moet afneem om na jou kind om te sien en te versorg.
Onthou egter, werknemers is geregtig op drie dae betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof in 'n tydperk van 12 maande vanaf die datum van aanstelling.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat dit drie dae per jaar is en nie drie dae per gebeurtenis nie.
Byvoorbeeld, as jy as werknemer nou jou drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof neem vir die siekte van jou kind, en jou ma sterf 'n maand later, sal jy nie weer geregtig wees op nog drie dae betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof nie.
Jy sal dan van jou jaarlikse verlof of onbetaalde verlof gebruik moet maak.
Dié verlof nie vir deeltydse werkers
Vraag:
'n Vrou maak my kantore skoon en werk net twee oggende per week. Moet ek gesinsverantwoordelikheidsverlof aan haar toestaan? Ek voel sy werk net twee dae per week by my en is nie op die volle drie dae geregtig nie. Kan ek dit verminder omdat sy minder dae werk?
Antwoord:
Jy hoef glad nie enige betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof toe te staan aan die werknemer wat slegs twee dae per week vir jou werk nie.
Die wet is baie duidelik daaroor dat gesinsverantwoordelikheidsverlof nie van toepassing is nie op werknemers wat:
- Minder as vier maande vir die betrokke werkgewer werk;
- Minder as vier dae per week vir die betrokke werkgewer werk; of
- Minder as 24 uur per maand werk.
Sy werk minder as vier dae per week vir jou en daarom is sy nie daarop geregtig nie.
Dit bly egter jou diskresie of jy dit wil toestaan, maar jy is nie verplig om dit te doen nie.
Kennistyd mag langer as maand wees

Vraag:
Mag ek vereis dat my werknemers langer kennisgewingstydperke as wat die wet voorskryf, moet gee as hulle bedank? Ek sien niks van langer kennisgewingstydperke in die wet nie.
Kan ek hulle versoek om kontraktueel tot langer kennisgewingstydperke toe te stem soos om byvoorbeeld twee maande kennis te gee? Sal dit reg en afdwingbaar wees?
Antwoord:
Jy is reg, art. 37 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (wet 75 van 1997), maak slegs voorsiening vir die minimum kennisgewingstydperke wat gegee moet word, nie die maksimum nie. Dit bepaal dat indien die dienskontrak beëindig word, die volgende minimum kennisgewingstydperke sal geld:
- Een week kennis indien die werknemer minder as ses maande lank in diens was;
- Twee weke kennis indien die werknemer tussen ses maande en 12 maande in diens was; en
- Vier weke kennis indien die werknemer langer as 'n jaar in diens was of as die werknemer 'n huiswerker of plaaswerker is wat langer as ses maande in diens is.
Uit bogenoemde is dit duidelik dat die wet nie voorsiening maak vir kennisgewingstydperke wat korter as die voorgeskrewe tydperke is nie en daarom kan die dienskontrak nie vir korter kennisgewingstydperke voorsiening maak nie.
Die werkgewer en werknemer mag egter ooreenkom op 'n kennisgewingstydperk wat langer as die minimum voorgeskrewe tydperke is, en dit sal afdwingbaar wees.
Werknemers moet verstaan dat indien hulle toestem tot 'n langer kennisgewingstydperk hulle nie later kan omdraai en die minimum kennisgewingstydperk soos die wet voorskryf, kan eis nie.
Art. 37(3) van genoemde wet bepaal egter dat daardie kennisgewingstydperke dan van toepassing sal wees op sowel werkgewer as werknemer. Sou die werkgewer 'n kennisgewingstydperk soos byvoorbeeld met afleggings moet uitbetaal, sal die langer kennisgewingstydperk waarop daar ooreengekom is, dan ook op hom van toepassing wees.
Indien jy reeds met die werknemers ooreengekom het om slegs die minimum kennisgewingstydperke soos hierbo genoem te gee, sal jy dit nie nou net kan wysig alvorens daar met die werknemer gekonsulteer is en die werknemer daartoe toegestem het nie.
Jy sal dus met die werknemers moet onderhandel en indien hulle nie toestem daartoe nie, sal jy dit nie kan verander nie.
Jy sal dit wel kan onderhandel en implementeer met nuwe werknemers voordat hulle begin werk deur dit deel van die dienskontrak te maak.
Skoolkinders en werk

Vraag:
Ek het 'n koffiewinkel en het naweke en vakansietye leerlinge wat vir my werk. Mag ek skoolgaande kinders aanstel om deeltyds vir my te werk? Is daar minimum lone wat ek ook aan hulle moet betaal of kan ek hul vergoeding net met hulle onderhandel?
Antwoord:
Die wet bepaal wanneer 'n kind vir jou mag en kan werk.
Art. 43(1) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (wet 75 van 1997) bepaal:
(1) Niemand mag 'n kind in diens neem nie:
(a) wat onder die ouderdom van 15 jaar is; of
(b) onder die minimum skoolverlaatouderdom ingevolge enige wet is, indien dit 15 jaar of ouer is.
(2) Niemand mag 'n kind in diens neem nie vir diens:
(a) wat ongeskik is vir 'n persoon van daardie ouderdom;
(b) wat die kind se welsyn, opvoeding, liggaamlike of geestesgesondheid of geestelike, morele of sosiale ontwikkeling in gevaar stel.
Ooreenkomstig art. 44 (2) van genoemde wet is dit 'n strafregtelike oortreding om enigiets te doen wat strydig is met genoemde artikels of om 'n kind wat jonger as 15 jaar is in diens te neem tensy dit in die uitvoerende kunste is en met 'n geldige permit van die departement van arbeid en daar 'n voorgeskrewe dienskontrak met die kind se ouers of agent opgestel is.
Onthou, volgens art. 213 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (wet 66 van 1995) is 'n werknemer enige persoon, uitgesluit 'n onafhanklike kontrakteur, wat vir iemand anders of die staat werk en wat vergoeding ontvang of geregtig is om enige vergoeding te ontvang, en enige ander mens wat op enige manier 'n bydrae lewer tot die voortsetting van die onderneming van die werkgewer.
Daarom sal die leerlinge ook as werknemers geag word en sal jy aan hulle die vasgestelde minimum loon moet betaal.
Die vasgestelde minimum lone wat u aan u personeel in die gasvryheidsektor moet betaal, is soos volg:
Indien daar tien of minder werknemers is:
- R15,17 per uur;
- R682,97 per week; en
- R2 959,35 per maand.
Indien daar meer as tien werknemers is:
- R16,91 per uur;
- R761,25 per week; en
- R3 298,52 per maand.
Hierdie lone is geldig tot 30 Junie 2017.
- Die skrywer en Rapport aanvaar geen aanspreeklikheid vir skade gely of enige regsimplikasies weens inligting wat in die rubriek verskyn het of as gevolg van enige optrede op grond van inligting daarin nie.
















