Beroepe

Psigiatriese probleme neem toe onder werkers

Liberty se eise weens aflegging het verlede jaar 9% van die totale eise uitgemaak teenoor 5% in 2019. Foto: iStock
Liberty se eise weens aflegging het verlede jaar 9% van die totale eise uitgemaak teenoor 5% in 2019. Foto: iStock

Suid-Afrikaners se finansiële stres maak hulle al hoe sieker.

Tot 35% van alle verlof wat tans vir tydelike ongeskiktheid toegestaan word, is weens psigiatriese of gedragsprobleme, volgens data van Alexander Forbes Health.

Dié groep sê in 'n mediaverklaring hy het die afgelope vyf jaar 'n styging gesien in die aantal Suid-Afrikaners wat aan geestesongesteldhede ly.

Hy glo finansiële kwellings speel 'n rol in dié toename asook in die styging in afwesigheid, swak prestasie en verlaagde konsentrasievermoë by die werk.

"Statistieke van die Wêreldfederasie vir Geestesgesondheid dui daarop dat daar gemiddeld 36 werkdae verlore gaan wanneer werknemers sulke episodes beleef en meer as 10% van die werkende bevolking het al siekteverlof weens depressie geneem," sê Myrna Sachs, die hoof van Alexander Forbes Health Management Solutions.

"Ons eie data toon 'n volgehoue styging in die aantal Suid-Afrikaanse werknemers wat die afgelope vyf jaar probleme met hul geestesgesondheid ervaar."

Wanneer finansiële stres en geestesongesteldheid gekombineer word, skep jy 'n spiraal wat mense net aftrek, waarsku Sachs.

Oktober is geestesgesondheidsmaand en die kollig behoort in dié maand ook op werknemers se finansiële welstand te val.

"Wanneer jy reeds swak geestesgesondheid het, raak dit moeiliker om jou finansiële sake te bestuur. Dit skep op sy beurt weer angstigheid en bekommernis wat weer negatief op jou gemoed inwerk."

Mense wat wakker lê oor skuld, fokus nie op hul werk nie, sê Sachs.

"Swak werkprestasie het boonop 'n uitkringende uitwerking met jou prestasiebonus en bevordering wat in die gedrag kom."

Die omvang van die probleem begin al hoe duideliker word.

"Een groep kliënte van ons met meer as 30 000 werknemers het 4 004 aansoeke die afgelope jaar vir verlengde siekteverlof ontvang. Hiervan was 25% te wyte aan geestelike en gedragsprobleme en die werknemers het gemiddeld 18 dae verlof geneem."

Die volgende rede vir verlengde verlof was weens spier- en skeletprobleme en dit was vir 9% van die aansoeke verantwoordelik.

"Dit wys hoe ongesond ons as 'n samelewing is en ons swak geestesgesondheid kos die ekonomie miljarde."

Data van 'n ander kliënt het getoon sy personeel neem nou ses tot 10 dae siekteverlof per jaar terwyl die gemiddeld vyf jaar gelede net twee tot drie dae was.

"Dié styging beteken iemand wat voortdurend siekteverlof neem, sal 30 dae per jaar neem en die volgende jaar onbetaalde verlof moet insit, wat sy finansiële welstand 'n verdere knou sal gee."

Sy raai maatskappy aan om afwesigheid te bestuur deur op die redes daarvoor te fokus.

"Identifiseer individue wat hoërisiko-gevalle is en help hulle om die kwessies te bestuur deur byvoorbeeld programme in te stel wat skuldprobleme aanpak."

Die finansiële welstand van werknemers behoort ook deel van 'n holistiese benadering tot hul welstand te wees.

"Spits jou aandag toe op die dinge wat werklik vir jou werknemers saakmaak," is Sachs se raad.

Vida Booysen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM