Beroepe

‘SA kort sjefs, nie wiskundiges’

Suid-Afrika het 'n hoë vraag na woonwapark- en kampeerterreinbestuurders, maar skynbaar nie na robotika-spesialiste, wetenskaponderwysers, wiskundiges of mikrobioloë nie.

Dít is as jy die konseplys van die departement van hoër onderwys en opleiding glo van beroepe wat hoog in aanvraag is in Suid-Afrika. Die lys word opgestel om universiteite en opleidingsinstansies leiding te gee oor tekorte aan vaardighede. Die konseplys is in Augustus uitgereik.

Suid-Afrika het nie 'n hoë vraag na mikrobioloë nie.
Suid-Afrika het nie 'n hoë vraag na mikrobioloë nie.

Dit word boonop deels gebruik as basis vir die departement van buitelandse sake se lys van kritieke vaardighede. Buitelanders met dié kritieke vaardighede kwalifiseer vir werkvisums in die visumkategorie vir kritieke vaardighede wat kragtens die Immigrasiewet vinnig verwerk word.

Nog beroepslui wat volgens die departement van hoër onderwys se konseplys hoog in aanvraag is, sluit in sjefs, wynmakers, tabakgradeerders, toergidse, verpleegsters, aktuarisse, siviele en elektriese ingenieurs en poskantoorbestuurders.

Geotegniese, metallurgiese of outomatiseringsingenieurs, werkers met buitelandse taalvaardighede en digitale bemarkers is nie op die lys van gesogte beroepe nie.

Marisa Jacobs, 'n direkteur van Xpatweb wat mense help om werkvisums hier te bekom, sê as skaars vaardighede in inligtings- en kommunikasietegnologie nie die departement van binnelandse sake se lys van kritieke vaardighede haal nie, kan dit ernstige gevolge inhou vir werkgewers in dié bedrywe.

Die jongste van Xpatweb se jaarlikse navorsing wys dat sowat 19% van Suid-Afrikaanse maatskappye IKT-spesialiste in die buiteland moet werf weens vaardigheidstekorte hier. Atesame 21% van respondente in Xpatweb se jongste peiling het gesê hulle moet ingenieurs in die buiteland werf.

Vertragings met die uitreiking van visums kan gevolglik projekte vertraag.

Tussen 2017 en 2019 het die getal ondernemings wat gesukkel het om opgeleide vakmanne plaaslik te werf met 60% toegeneem, volgens Xpatweb se navorsing. Dit strook met syfers van die regering dat Suid-Afrika 'n tekort van sowat 40 000 gekwalifiseerde vakmanne het, sê Jacobs.

Ondernemings is bekommerd omdat vaardige Suid-Afrikaners die land verlaat en hulle hervestig in onder meer Nieu-Seeland, Kanada, Brittanje, Australië en Mauritius, het Xpatweb se opname gewys.

Jacobs sê hoewel daar nie een amptelike buro is wat emigrasiedata in Suid-Afrika byhou nie, word geraam dat sowat 23 000 mense per jaar die land verlaat.

Xpatweb het 'n paar weke gelede aan ondernemings in Afrika gevra hoe die sluiting van grense weens Covid-19 hul ondernemings geraak het. Meer as 60% het gesê hulle moes kritieke projekte uitstel weens die inperkingsmaatreëls. Altesame 14% van dié ondernemings is in die olie- en gasbedryf, 15% in die mynbedryf en 18% in die konstruksiebedryf.

Riana De Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM