Beroepe

‘Sagte’ vaardighede help jong mense werk kry

Basiese interpersoonlike vaardighede is selfs belangriker as tegniese opleiding om aan werklose jong mense 'n uitkoms te bied - selfs al beteken die swak ekonomie dié opleiding waarborg nie vir hulle werk nie.

Opleiding in kommunikasievaardighede help jong mense heelwat uitdagings te bowe kom - selfs sonder matriek. Foto: Unsplash
Opleiding in kommunikasievaardighede help jong mense heelwat uitdagings te bowe kom - selfs sonder matriek. Foto: Unsplash

Jeugwerkloosheid staan op krisisvlakke van 39,6%, luidens die jongste werkloosheidsyfers van Statistieke Suid-Afrika.

Maar die breër maatstaf, wat ontmoedigde werksoekers insluit, trek nou al by 52% vir mense van 15 en 34 jaar oud wat skool verlaat het en nié verder leer nie.

Akademici wat werkskeppingsprogramme vir jong mense ontleed het, bevind hulle het opleiding in "sagte vaardighede", soos kommunikasievaardighede, nodig eerder as tegniese opleiding omdat baie werklose jong mense kom uit 'n arm omgewing wat ver verwyderd is van 'n konvensionele werkslewe.

Die Siyakha-navorsingstuk oor jeugwerkloosheid is in samewerking met die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling in Afrika geskryf.

Dis nie dat die staat en private sektor te min programme vir jeugindiensneming begin nie, sê die navorsers. In vergelyking met internasionale tendense bestee Suid-Afrika bogemiddeld baie om die probleem aan te pak. Dit lyk egter nie of die programme suksesvol is nie.

Die grootste struikelblokke tussen jong mense en behoorlike werk is:

  • Die ekonomie groei só stadig dat nuwe poste nie beskikbaar word nie, al sou jonges in staat wees om dit te doen.
  • Die tekortkomings van jonges is nie soveel tegnies nie as toeskryfbaar aan hul strukturele verwydering van 'n kultuur van werk en finansiële verantwoordelikheid.

Die Siyakha-navorsingstuk het probeer vasstel watter elemente binne bestaande programme vir jeugindiensneming wel lei tot verbeterde kanse op vaste indiensneming.

LEES OOK: Dink op Jeugdag liewer só oor werkskepping

Die navorsing het aanvaar al word daar binnekort merkwaardige ingrypings gemaak, die ekonomie net soveel kapasiteit in sy huidige powere toestand het om nuwe werknemers te absorbeer. Daarom het hulle ook programme geëvalueer op grond van hul vermoë om jonges se deursettingsvermoë en weerstandigheid in dié droewige arbeidsmark te verbeter.

As jonges dus kan uithou en aanhou werk soek ten spyte van voortdurende werkloosheid nadat so 'n program voltooi is, is dit ook 'n vorm van sukses in vergelyking met die alternatief waar hulle moed opgee, sê die verslag.

In die studie se evaluering van 977 jonges wat die programme vir jeugindiensneming voltooi het, is bevind dat die programme tot 'n toename van 11 persentasiepunte lei in die waarskynlikheid dat die jong mense uiteindelik werk kry.

Wat het die programme in die studie bereik?

  • Ná twee jaar was 54% steeds werkloos
  • 28% het heeltydse of deeltydse poste gekry
  • 17% het verder gaan studeer
  • 1% het hul eie onderneming begin

Die 54% werkloosheid word in die lig van die swak ekonomie nie as 'n tekortkoming van die projekte uitgelig nie, soos hierbo genoem.

Aan die positiewe kant is bevind:

  • Steeds werklose jong mense wat die programme voltooi het, was baie meer geneig om te gaan studeer, en ook die moeilikheidsgraad van wat hulle gaan studeer het, was hoër, om hulself nog beter op te lei.
  • Die meerderheid van diegene wat nie verder kon studeer óf werk gevind het nie, het gerapporteer dat hulle nie opgegee het om werk te soek nie en aan ondersteuningsnetwerke verbind gebly het. Dit is die teenoorgestelde van die tendens onder jonges wat nie sulke programme voltooi nie. Op dié manier, "wanneer werk wel beskikbaar word, staan hulle gereed om die geleentheid aan te gryp".

Die studie het ook bevind dat drie elemente van die programme vir jonges die meeste hul kanse om 'n werk te vind verbeter:

  • Verbindings: Wanneer programme jonges regstreeks in verbinding gebring het met 'n geskikte potensiële werkgewer, en ook daarvolgens opgelei het, is hul kanse 28 persentasiepunte beter om werk te kry as daarsonder. Dit lei ook regstreeks tot beter vergoeding.
  • Interpersoonlike vaardighede: Blootstelling aan algemene interpersoonlike vaardighede wat in enige werk asook in hul private lewe bruikbaar was, het hul kanse om werk te kry, merkwaardig verbeter. Vir elke 10% meer tyd wat aan dié opleiding toegewy is, het individue se kans op werk met 0,7 van 'n persentasiepunt verbeter. Dié ingryping het ook bykans heeltemal die enorme nadele gekanselleer van jonges wat nie matriek het nie of wat ver van metropole af woon.
  • Finansiële vaardighede: Basiese opleiding oor hoe om persoonlike geldsake behoorlik te bestuur, het ook 'n gunstige uitkoms gehad op jonges se kans om 'n werk te kry. Met die opleiding en opening van 'n spaarrekening het die studie nie 'n regstreekse verbetering in hul finansiële bekwaamheid opgemerk nie, maar wel 'n positiewe effek geïdentifiseer waar jonges hul soeke na werk volhoubaarder aanpak.

Die elemente wat geen wesenlike verskil gemaak het of jonges uiteindelik werk kry nie, was werkservaring, tegniese programme met formele akkreditasie, en toelae vir die duur van 'n program.

Volgens die navorsers verg Suid-Afrika se unieke strukturele jeugwerkloosheidsprobleem ook unieke benaderings.

"As ons 'n dinamiese en groeiende ekonomie kon indink wat talle poste skep, sal te veel jong mense steeds sukkel om werk te kry weens die vele struikelblokke en gapings wat hulle in die gesig staar as gevolg van armoede, geografiese ligging en swak skoolopleiding. "Programme vir jeugindiensneming sal dus voortaan belangrik bly om sulke jeugdiges te ondersteun om toegang te verkry tot die voordele van 'n groeiende ekonomie."

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM