Beroepe

Sakeleiers deel raad op nuwe TV-program

Marc Wainer, die uitvoerende voorsitter van Redefine Properties, in die stoel as gasheer van die nuwe TV-program The Mentorship Challenge - with Marc Wainer.
Marc Wainer, die uitvoerende voorsitter van Redefine Properties, in die stoel as gasheer van die nuwe TV-program The Mentorship Challenge - with Marc Wainer.

'n Nuwe TV-program met 'n stewige borgskap van die genoteerde Redefine Properties om sakeleierskap te ontwikkel en met maatskaplike opheffing te help, word oor 6 dae vir die eerste keer uitgesaai.

Mentorskap deur leiers in die sakesektor is die maatskaplike ingryping wat nuwe hoop kan bring vir die heersende leierskapskrisis in die land.

"Ek dink nie die sakesektor doen genoeg om leierskapsmodelle vir toekomstige generasies te help skep nie," sê Marc Wainer, uitvoerende direkteur van Redefine Properties en eiendomsghoeroe. Dié eiendomsreus is bekend vir sy slagspreuk wat lui: "Ons is nie eiendomseienaars nie, maar mense".

Teen dié agtergrond borg Redefine 'n nuwe TV-program met die charismatiese Wainer as gasheer, wat gemik is op maatskaplike opheffing deur mentorskap. The Mentorship Challenge - with Marc Wainer, begin op 4 Oktober om 20:30 op CNBC (kanaal 410) op DStv.

Die program is 'n platform waardeur tientalle van die land se voorste sakeleiers, onder andere die ekonoom Dawie Roodt en die sakeman Brian Joffe, hulself beskikbaar maak as mentors vir aspirant-leiers vanuit alle bedrywe.

Die sakeleiers deel hul pêrels van wysheid, insigte en ook die lesse wat hulle op die pad na sukses geleer het - inligting wat nie in enige sake-handleiding staan nie.

"Ek is passievol oor mentorskap en die oogmerk van die program is om soveel moontlike mentors en aspirant-leiers by mekaar uit te bring," sê Wainer.

Om geskikte pare te maak, gaan nie net oor die spesifieke vaardighede nie, maar ook oor die vonk tussen die onderskeie persone.

Wainer, wat van 'n nederige begin tot 'n suksesvolle eiendomsmagnaat ontwikkel het, sê hy sou dit nie kon doen sonder verskeie mentors in sy lewe nie. "Leiers wat nie bereid is om hul vaardighede en lesse met ander te deel en 'n erfenis na te laat nie, verteenwoordig leierskap in 'n vakuum."

Hy glo dat dit moontlik is om met rou talent, murg in jou pype en die leidende hand van 'n leier, 'n pad uit armoede te kerf.

Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine, sê die program is relevant in die lig van die groot voorkoms van werkloosheid, veral onder die jeug, in die land. Hy sê dit het oortuigende sakesin vir die eiendomsgroep omdat diegene wat gementor word, Redefine se toekomstige belanghebbendes is, mense met wie hy gaan sake doen.

Voornemende mentors kan vanaf 4 Oktober op die webwerf www.mentorshipchallenge.co.za registreer.

Elma Kloppers

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM