Om 'n kernlid te verloor, kan jou span verpletter. 'n Klompie klein en kostedoeltreffende ingrypings kan jou help om 'n bedanking te verhinder.

Jy het een uitblinker in jou span. Een. Hy (of sy) is die ou op wie jy altyd kan staat maak om uitstekende werk te doen, en betyds.
Hy het altyd 'n vindingryke oplossing vir 'n probleem en kan verstaan wat Stuart bedoel, al kommunikeer dié hoofsaaklik in geluide en gebare.
En dan, 'n bedankingsbrief. Om die ster van jou span te vervang, gaan nie alleen duur wees nie, maar ook 'n verlies van kundigheid en produktiwiteit beteken en jou aandag maande lank aflei.
Pleks daarvan om op die uitdagings van jou dagtaak te konsentreer, moet jy nou tyd en energie afstaan om 'n plaasvervanger te soek en "Stuart" te leer praat.
En al het jou eertydse staatmaker jou verseker "dit is nie jy nie, dis ek", het jy die nare gevoel dat sy bedanking voorkom kon word.
Hier is 'n klompie kostedoeltreffende maniere om kernpersoneel te behou:
1. Wees erkentlik en beloon goeie werk
Selfs die geringste gebaar van dankbaarheid vir goeie werk - 'n dag af, 'n restaurantbewys of kaartjies vir 'n rugbywedstryd - kan 'n groot verskil maak en help dat 'n werknemer gewaardeer voel. Verwys in vergaderings of die interne nuusbrief na goeie werk wat gedoen is en gee erkenning wanneer iemand die maatskappy se waardes uitleef.
2. Wees deursigtig
Hou werknemers op die hoogte van hoe dit met die onderneming gaan en spel uit hoe hul werk regstreeks daartoe bydra dat die maatskappy sy doelwitte bereik. Kommunikeer behoorlik en gereeld, en hou dit positief. Werk daaraan om hulle veilig te laat voel.
3. Skep geleenthede vir groei
Dit is straks die belangrikste ingryping om personeel te behou, sê Heidi Duvenage, hoof van Sage Talent Solutions, die werwingsafdeling van die internasionale personeel- en geïntegreerderekeningegroep Sage. Maak seker jou personeel sal nie stagneer nie deur vir hulle take te gee wat uitdagings stel en geleentheid bied om nuwe vaardighede te bemeester.
"In die werkende wêreld van vandag, wat voortdurend verander, is dit uiters belangrik dat die toptalent ten alle tye toegelaat moet word om hul vaardighede uit bou. Maatskappye wat nie sulke geleenthede skep nie, loop die gevaar dat hul beste werknemers sal aanbeweeg na maatskappye wat wel vir hulle kans gee om nuwe dinge te leer."
Maak seker jou werknemers het toegang tot opleidingsgeleenthede en word byvoorbeeld aangemoedig om aanlyn kursusse te volg. Wys ook interne mentors aan vir jou uitblinkers.
4. Respekteer hul lewe buite werkure
Pleks van konsentreer op hoeveel ure 'n werknemer werk, evalueer slegs wat bereik is.
Wys dat jy ernstig is daaroor om werknemers te help om 'n goeie werk-lewe-balans te handhaaf deur e-pos buite werkure te verbied, of buigsaam te wees met kantoorure en tele-pendelary te bied op dae wat hulle tuis moet bly.
Oorweeg dit om 'n resultaatgebonde werkomgewing te skep. Pleks van konsentreer op hoeveel ure 'n werknemer werk, evalueer slegs wat bereik is.
Werknemers aanvaar dan volle verantwoordelikheid vir hul werk en word slegs beoordeel op grond van uitkomste gelewer. Dit gee aan hulle beheer oor waar en wanneer hulle verkies om aan hul projekte te werk, wat hulle in staat stel om hul werkende lewe te struktureer soos dit hulle pas.
Help jou werknemers ook om hul huislike verpligtinge te bestuur deur ondersteuningsmaatreëls in te stel. In Amerika bied baie maatskappye deesdae teen baie lae pryse wasgoed-, aflewerings-, nutsmandienste en selfs in 'n noodgeval kinderoppassers aan hul werknemers.
Beskou alle persoonlike noodgevalle as geleenthede om te wys jy is bereid om spanlede te ondersteun. Wees meer as gulhartig wanneer hulle tyd af vra en help waar jy kan. Behalwe dat dit gewoon ordentlik is, sal dit jou ook help om lojaliteit te wen.
5. Moedig dialoog aan
Skep geleenthede waar werknemers kan gesels oor waarmee hulle besig is en 'n omgewing (soos 'n ontspanningsvertrek) wat onderlinge kontak vergemaklik.
Lê 'n duidelike roete vir loopbaanvordering neer en stel waar moontlik mense van binne in bevorderingsposte aan.
Werknemers sal dikwels die skip verlaat bloot omdat dit makliker is om 'n oop pos elders te vind. Maak seker jou span weet presies waarheen hulle binne die maatskappy op pad kan wees as hulle presteer. Toon jou vertroue in die uitblinkers deur hulle soms met 'n belangrike en meer senior projek te beloon.
6. Bied innoverende voordele
Dink nuwe maniere uit om werknemers te beloon, verkieslik voordele wat vir hul individuele behoeftes ontwerp is. Dit kan lidmaatskap van 'n gimnasium of gesondheidsdienste insluit.
7. Sny ergernisse uit
Probeer om irritasies uit te skakel, byvoorbeeld deur minder vergaderings te hou.
Praat met jou werknemers oor hul ergste frustrasies by die kantoor. Probeer om irritasies uit te skakel, byvoorbeeld deur minder vergaderings te hou. Ná terugvoer deur hul personeellede het 'n maatskappy soos Intel byvoorbeeld e-posvrye dae ingestel.
Vra vir insette en stel hul idees in werking
Betrokke werknemers voel dat hul bydrae waardevol is en dat hulle 'n invloed op hul werkomgewing kan hê. Skep geleenthede (selfs die goeie ou kartondoos vir voorstelle) om terugvoer moontlik te maak.
8. Spring goed weg
Studies toon dat hoe nuwe werknemers behandel word wanneer hulle begin werk, 'n groot verskil kan maak in hoe lank hulle by 'n maatskappy aanbly.
9. Trakteer soms onverwags
Van gratis worsrolletjies tot "bring jou troeteldier werk toe"-dae - jy kan baie dinge doen om die kantoorlewe prettig te maak. Bring tradisies tot stand wat nie met die tradisionele vakansiedae verband hou nie. Vier werknemers se persoonlike mylpale, byvoorbeeld deur 'n ete vir 'n huweliksherdenking te borg of 'n kaartjie (of dag af) wanneer 'n kind verjaar.
10. Struktureer langtermynbelonings
Maak seker jou vergoedings- en bonusraamwerk beloon doelwitte wat oor langer tydperke bereik word. Dit kan help om werknemers langer te behou.
11. Voorkom verveling
Haal die sleur uit sleurwerk deur take gereeld te verwissel of spanlede na ander afdelings te sekondeer. Maak seker jou span is by 'n besielende sosiaal-maatskaplike projek betrokke en laat tyd toe om buite die kantoor aan dié projekte te werk.























