Beroepe

Só lyk gemiddelde salaris in SA nou

Die gemiddelde salaris wat Suid-Afrikaners verdien, het die afgelope kwartaal gedaal.

As jy nou maandeliks meer as R22 387 verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris. Foto: Getty Images
As jy nou maandeliks meer as R22 387 verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris. Foto: Getty Images (Waldo Swiegers )

Dis egter nie té verrassend nie, omdat heelwat meer mense in die laaste kwartaal van die jaar bonusse kry as in die eerste kwartaal van die nuwe jaar.

As jy nou maandeliks meer as R20 855 verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris.

Dié bedrag is die gemiddelde salaris in Februarie 2019 wat die 10,174 miljoen mense in die formele sektor verdien het, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) vir die eerste kwartaal van 2019.

Die gemiddelde salaris van R20 855 sluit wel oortyd en bonusse in. Dis 3,8% hoër as in Februarie 2018, maar 1,9% minder as in November 2018.

Werknemers se totale bruto verdienste - wat pensioenfondsbydraes en ander werknemervoordele insluit - het op 'n kwartaalgrondslag met 5,6% tot net meer as R688 miljard in Maart gedaal. Dit was wel 3,7% hoër as 'n jaar gelede.

Die daling in verdienste, selfs al is meer mense in diens, beteken die poste wat verlore is, was beter betaalde poste as dié wat wel geskep is.

Siphamandla Mkhwanazi, FNB-ekonoom, sê die feit dat salarisse op 'n jaargrondslag met minder as die inflasiekoers (wat in Februarie 4,1% beloop het) gestyg het, beteken salaristrekkers se koopkrag daal.

"Dis veral kommerwekkend in die lig van die groter belastinglas wat vir vanjaar voorsien word weens fiskale sleur. Ons verwag dus dat die druk op huishoudings se besteebare inkomste sal voortduur, wat niks goeds vir algehele huishoudelike verbruik op kort tot mediumtermyn voorspel nie."

Huishoudings kan wel in Julie 'n bietjie verligting verwag wanneer die petrolprys met nagenoeg 90c per liter gaan daal, en heelwat ekonome begin ook voorspel dat die Reserwebank middel Julie die rentekoers gaan verlaag.

LEES OOK: Petrolprys: Só lyk syfers vir Julie nou

Aan die ander kant is daar groot kommer dat die styging in mieliepryse kospryse weer gaan opdruk oor die volgende paar maande.

LEES OOK: Skok oor kospryse op pad: Hier is die redes

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM