
Lang werkure beteken nie noodwendig 'n verhoging in produktiwiteit nie, bevind 'n nuwe studie.
Mexiko, laaste op die lys van die wêreld se 35 produktiefste lande volgens 'n peiling wat in 2015 deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) gedoen is, het ook die wêreld se langste werkweek: 41,2 uur (heeltydse en deeltydse werkers ingesluit).
Aan die ander kant van die spektrum het Luxemburg, die produktiefste land, 'n gemiddelde werkweek van net 29 uur, berig die tydskrif Time.
Suid-Afrika is nie onder die 35 produktiefste lande nie.
In die tweede plek is Ierland, gevolg deur Noorweë en België. 'n Land wat bekend is vir 'n korporatiewe kultuur van lang werkure, Japan, is in die 20ste plek.
Die navorsing het produktiwiteit bereken deur elke land se bruto binnelandse produk (BBP) te deel in die gemiddelde getal ure wat jaarliks deur sy burgers wat in diens is, gewerk word. Ure gewerk sluit heeltydse en deeltydse werkers in, maar vakansiedae is buite rekening gelaat.
Volgens hierdie berekening is die VSA in die vyfde plek, met 'n bydrae van $68,30 per uur gewerk tot die land se BBP.
Dié bevinding is volgens Time strydig met aansprake dat Amerikaners die produktiefste werkers ter wêreld is. Amerikaners werk gemiddeld 33,6 uur per week, langer as al vier lande wat hoër op die lys is.
In 'n studie wat in 2014 deur Stanford-Universiteit gedoen is, is bevind dat werknemers se produktiwiteit begin daal ná 'n 50 uur-werkweek, en dat iemand wat 70 uur per week werk, niks meer in daardie ekstra 15 uur produseer nie.
Die risiko om 'n beroerte te kry het ook met 'n derde toegeneem in individue wat meer as 55 uur per week gewerk het, het 'n omvattende 2015-studie in Europa en Brittanje bevind.
Dié navorsing het data verwerk van meer as 25 vorige studies wat meer as 600 000 mense ingesluit het. Die proefkonyne het aan die begin van die proeftydperk geen teken van enige hartsiekte getoon nie.















