Beroepe

Soek jy werk? Hier is raad

As jy pas matriek of graad gevang het of dalk net 'n nuwe werk soek, betree jy die arbeidsmark op 'n moeilike tyd in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Dit beteken egter nie jy moet tou opgooi nog voordat jy begin het nie. Daar is maniere waarop jy jouself kan laat uitstaan onder ander werksoekers.

Jy hoef nie noodwendig 'n das vir jou werkonderhoud te dra nie, maar jy moet beslis baie netjies en smaakvol aangetrek wees. Foto: Pixabay
Jy hoef nie noodwendig 'n das vir jou werkonderhoud te dra nie, maar jy moet beslis baie netjies en smaakvol aangetrek wees. Foto: Pixabay

1. Laat jou CV uitstaan

Jou CV moet 'n werkgewer of werwingsagent binne twee of drie bladsye só beïndruk dat jy vir 'n onderhoud genooi word - maar sonder om jou kwalifikasies of vaardighede te oordryf!

Heidi Duvenage, hoof van Sage Talent Solutions, sê jy moet doodseker maak dit het geen spel- of taalfoute nie - dit sal beskou word as 'n gebrek aan professionaliteit en nalatigheid.

"As jy nie vertroue het in jou eie taalvaardighede nie, vra iemand om jou CV en dekbrief te proeflees."

Duvenhage sê 'n goeie CV is bondig, bygewerk en professioneel.

"Jy moet dit oorweeg om dit vir elke pos waarvoor jy aansoek doen, aan te pas om die vaardighede en ervaring te beklemtoon wat mees toepaslik vir daardie rol is."

As jy reeds werk, is dit ook belangrik dat jou aanlyn-profiel op LinkedIn en enige persoonlike webwerf bygewerk is.

2. Doen jou huiswerk!

Voordat jy aansoek doen vir 'n nuwe werk, beveel Duvenage aan dat jy probeer vasstel of daar in die mark 'n vraag is na die vaardighede wat jy kan bied en waar die geleenthede lê.

As jy in 'n spesifieke bedryf belang stel, lees na oor die uitdagings en geleenthede in daardie bedryf.

As jy in 'n spesifieke maatskappy belang stel, lees sy finansiële resultate en ook wat kliënte op sosiale media oor die maatskappy sê. As jy gelukkig wil wees in jou nuwe werk, is die kultuur van 'n maatskappy en die toekomsmoontlikhede wat dit bied, belangrik.

3. Adverteer dat jy werk soek

Die wenke wat Duvenage gee, sluit in:

  • Bemark jouself op webwerwe wat poste adverteer.
  • Gesels met mense wat werk in die bedryf waarin jy werk soek.
  • Brei jou beroepsnetwerk uit deur mense op LinkedIn te volg wat in dieselfde bedryf is.
  • Stuur jou CV aan werwingsagentskappe wat werk in die bedryf waarin jy werk soek.
  • En doen aansoek vir relevante poste wanneer hulle geadverteer word!

4. Byt vas

Dit kan jou moed breek as jy die een werkaansoek ná die ander indien en jy dalk nie eens vir 'n onderhoud genooi word nie. Dalk word jy vir 'n onderhoud genooi, maar kry steeds nie die pos nie.

Onthou dat die meeste mense vir 'n paar onderhoude moet gaan voordat hulle hul droompos losslaan.

—  Heidi Duvenage van Sage

"Onthou dat die meeste mense vir 'n paar onderhoude moet gaan voordat hulle hul droompos losslaan," sê Duvenage.

In die huidige ekonomie - met honderde mense wat om dieselfde pos meeding - sal dit dalk langer duur om werk te kry.

"As jy geen antwoord ontvang nie of dadelik afgekeur word wanneer jy vir 'n werk aansoek doen, moet jy jouself afvra waarom. Is dit omdat jy jouself verkeerd posisioneer of omdat jy nie jou vaardighede en ervaring doeltreffend oordra nie?" vra Duvenage.

Sy sê dit kan dalk help om met 'n werwingsagentskap te praat om insig te kry oor die foute wat jy maak.

Indien jy wel vir 'n onderhoud (of twee) genooi is, maar steeds nie die werk kry nie, kan jy vriendelik terugvoering vra wanneer jy in kennis gestel word.

Wees baie taktvol en moenie altyd 'n antwoord verwag nie en moenie die geleentheid probeer gebruik om te redeneer dat hulle eintlik 'n fout maak en jy die pos moet kry nie.

Die volgende kan dalk werk:

"Baie dankie vir die geleentheid om vir die pos aansoek te doen.

"Ek begryp dat die pos aan iemand anders aangebied is, maar ek sal dit baie waardeer indien julle konstruktiewe terugvoering aan my kan gee oor die onderhoud.

"Ek sal baie dankbaar wees vir enige inligting wat my kan help om myself te verbeter in my soeke na werk."

Moenie terugvoering vra as jy bloot jou CV ingedien het en nooit weer van die maatskappy gehoor het nie.

5. Vaar só beter in 'n onderhoud

Duvenage gee die volgende wenke:

  • Oefen jou antwoorde: Hoewel daar altyd onderhoudvoerders sal wees wat moeilike, onverwagte vrae vra, kan jy baie nalees oor die soort vrae wat in werkonderhoude gevra word. Berei antwoorde voor.
  • Stel jou eie vrae op: Die meeste onderhoudvoerders sal jou die kans gee om jou eie vrae te stel oor die werk of die maatskappy. Maak seker jy het wel vrae - dit wys dat jy regtig belang stel.
  • Trek netjies aan: Selfs al is dit 'n werk in 'n informele opset waar almal denims en T-hemde dra, trek 'n mens netjieser aan vir 'n werkonderhoud.
  • Wees betyds: Maak seker jy ken die roete (en die verkeer op die pad!). Moet onder geen omstandighede laat wees nie.
Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM