Beroepe

Solidariteit het plan vir Afrikaanse skole, universiteite

Dr. Dirk Hermann Foto: Elvira Wood
Dr. Dirk Hermann Foto: Elvira Wood (Elvira Wood)

Die vakbond Solidariteit beplan om R4,5 miljard oor die volgende vyf jaar te spandeer om Afrikaanse skole en universiteite te ontwikkel.

Sy nuwe NetWerk, wat hy Donderdag in Pretoria bekend gestel het, gaan veral op onderrig fokus, sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

"Dit help nie om in moedeloosheid te verval nie. Ons het net een alternatief en dit is om ons goed te vat en te bou. Ons moet die bul by die horings pak," sê hy oor die toekoms van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

Van die grootste projekte wat aangepak gaan word, is die uitbou van Akademia - sy Afrikaanse tersiêre instansie in Pretoria - tot 'n volwaardige universiteit met 'n kampus, sportvelde en koshuise.

Hy wil sy kollege Sol-Tech op soortgelyke wyse ontwikkel.

'n Nuwe inisiatief wat deel van die Solidariteit NetWerk gaan vorm is die ontwikkeling van 'n volledige, alternatiewe Afrikaanse skoolnetwerk.

"Daar gaan dus 'n volledige Afrikaanse wêreldklas private opleidingspyplyn gebied word," sê Hermann.

Die inisiatief gaan nie net op onderrig fokus nie. Hermann sê 'n netwerk van beroepsgildes gaan ook gestig word.

"Hierdie gildes gaan vir jongmense toegang tot die werkplek help gee en gaan 'n mentorskapprogram begin. "Die gildes gaan ook vir die belang van die beroep optree en gaan verdere opleiding deur Solidariteit se nuwe maatskappy, S-leer, fasiliteer," sê hy.

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM