Beroepe

Suid-Koreane werk nou ‘net’ 52 uur per week

Koreaanse vroue werk in 'n fabriek wat grimering maak.
Koreaanse vroue werk in 'n fabriek wat grimering maak.

As jy nie jou lewe by die werk wil deurbring nie, moet jy Suid-Korea dalk vermy.

Suid-Korea se parlement het ná 'n jare lange stryd eindelik Woensdag wetgewing goedgekeur om weeklikse werksure in dié land van 68 tot 52 te verminder.

Die hersiening laat 40 gewone werksure per week toe en 12 oortydure. Die oortyd sluit naweekwerk in.

Werknemers sal ook tussen 50% en 100% ekstra betaling vir naweekwerk kry, afhangende van hoeveel ure hulle gewerk het.

Suid-Koreane werk gemiddeld 2 069 uur per jaar. Dit is die naasmeeste, ná Mexiko, wanneer dit by lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) kom.

Inligting oor die gemiddelde werkure wat Suid-Afrikaners werk, word nie in Oeso se verslag oor dié kwessie ingesluit nie.

Pres. Moon Jae-in, wat verlede jaar as deel van sy verkiesingsveldtog 'n beter lewe aan werkers belowe het, het dit ook reggekry om die minimum loon met 16% te verhoog.

Teenkanting teen die minder werkure en hoër lone word egter verwag.

Die Koreaanse federasie vir mikro-ondernemings sê kleinsake-eienaars wat dit nie kan bekostig om meer werknemers aan te stel nie, sal op die ou einde self langer ure moet werk.

Die federasie waarsku ook dat die nuwe reëls werknemers waarskynlik gaan noop om ekstra werk te kry om die verlies aan inkomste teen te werk.

Die wetgewing sal in fases in werking tree gegrond op hoe groot die ondernemings is.

Maatskappye met 300 of meer werknemers moet reeds van Julie aan die vereistes voldoen.

Kleiner maatskappye met tussen 50 en 299 werkers moet teen 2020 daaraan voldoen.

- Bloomberg, verwerk

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM