
As jy meer as twee weke elke maand op reis is vir werk is daar 'n goeie kans jy gaan siek raak.
Dit is die bevindinge van navorsing wat deur die Universiteit Columbia in die VSA se Mailman-skool vir openbare gesondheid gedoen is.
Die Los Angeles Times berig mense wat soveel reis, is meer geneig om simptome van depressie en angstigheid te toon en sukkel ook om te slaap. Dit is in vergelyking met mense wat minder as een week per maand vir sake reis.
Die studie het ook bevind as jy boonop alkohol gebruik, het jy 'n groter kans om 'n afhanklikheid daaraan te ontwikkel.
Navorsers het glo die mediese rekords van 18 328 werknemers in die VSA wat in 2015 vir mediese ondersoeke gegaan het vir die studie nagegaan.
Studies deur ander instansies het reeds gewys mense wat baie reis, het 'n groter kans om diepaartrombose te ontwikkel en vlugvoos te word.
"Wanneer werkgewers akkommodasie vir hul werknemers se sakereise bespreek, moet hulle seker maak daar is toegang tot geriewe wat fisiese aktiwiteite en gesonde kos- opsies bied," sê prof. Andrew Rundle, medeprofessor van epidemiologie by die skool.
Vorige studies deur Rundle het getoon daar is 'n verband tussen oormatige sakereise en vetsug en hoë bloeddruk.


















