Beroepe

Toerismebedryf ’n (baie) groot werkverskaffer

'n Lugfoto van die V&A Waterfront in Kaapstad, die waardevolste eiendom in die land.
'n Lugfoto van die V&A Waterfront in Kaapstad, die waardevolste eiendom in die land.

Een uit elke 22 Suid-Afrikaners wat werk het, werk in die toerismebedryf, wys data van Statistieke Suid-Afrika (SSA). Dit is sowat 4,5% van die totaal van 16,2 miljoen werkende mense in die land. Uit elke tien mense wat in toerisme werk, is vier vroue.

Luidens 'n verslag van SSA groei die getal werksgeleenthede in die bedryf ten spyte van die swak ekonomie. 'n Netto totaal van sowat 32 000 nuwe werksgeleenthede is in 2017 in die bedryf geskep.

Die getal internasionale toeriste wat die land besoek het, het van 10 miljoen in 2016 tot 10,3 miljoen in 2017 gestyg. Dié groei kan bydra tot groei in werksgeleenthede in verwante bedrywe, soos padvervoer en die bedrywe vir kos, drank en verblyf.

Mense wat in Suid-Afrika rondreis, bestee die meeste geld (27% van hul begroting) aan vervoer. Vir internasionale besoekers is dit die vierde grootste item op hul lys. Altesaam 30% van toeriste-verwante werksgeleenthede is in die vervoerbedryf.

Die meeste nuwe werksgeleenthede is ook in die vervoerbedryf: 16 676 in 2017. Verblyf en lugvervoer van passasiers is tweede en derde op die lys. Spoorvervoer, die kultuurbedryf asook kos-en- drank-bediening het egter werksgeleenthede verloor.

Meer vroue werk in dié bedrywe: kos-en-drank-bediening, verblyf, ontspanning en kleinhandel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM