
Die pas van transformasie in die Suid-Afrikaanse werkplek vorder, maar wit mans oorheers steeds die werksmag, veral op top- en senior bestuursvlak.
Die regering blameer groot maatskappye "wat wetgewing ignoreer", terwyl die DA sê dit is die regering wat misluk.
Die jaarlikse verslag oor diensbillikheid in Suid-Afrika is Dinsdag uitgereik en wys dat wit mense 68,5% van topbestuursvlak opneem en swart mense 14,4%. Mans vul amper 80% van hierdie poste.
Op senior bestuursvlak vul wit mense 58,1% van poste, gevolg deur swart mense (22,1%). Mans oorheers ook hier en vul amper 67% van die poste op hierdie vlak.
Mildred Oliphant, minister van arbeid, sê die verslag weerspieël 'n "pynvolle stadige pas van transformasie". "Swart mense, vroue en mense met gestremdhede bly ernstig onderverteenwoordig in alle aspekte van billike indiensneming."
Volgens Oliphant is daar in groot maatskappye nie 'n aptyt vir transformasie nie.
"Dit is kommerwekkend dat daar net te veel maatskappye wat op die JSE genoteer is wat die wet heeltemal ignoreer," sê Oliphant.
21 genoteerde maatskappye is beboet vir nienakoming en verskeie ander moet nog beboet word.
Die enigste manier om bestuursvlakke te diversifiseer is om betekenisvolle ontwikkeling van vaardighede te herskep
— Ian Ollis
Ian Ollis, DA-LP, sê egter hoewel die verslag vooruitgang wys om die werkplek te diversifiseer, "beklemtoon dit meestal die regering se mislukking om 'n sterk vaardigheidsgrondslag te skep om die topbestuursposte in ons land te diversifiseer.
"Dit is duidelik die stadige pas van verandering is weens die ANC se blinde obsessie met kwotas van bo af en die afskeping van ware vaardigheidsontwikkeling," sê Ollis.
Hy sê as vaardigheidsontwikkeling geprioritiseer was, sou daar baie meer transformasie op die boonste vlakke van beroepe gewees het.
"Die tragiese werklikheid is dat pres. Jacob Zuma en sy regering meer belang stel in selfverryking vir vriende, familie en kamerade as om jong, swart Suid-Afrikaners te bemagtig," sê hy.
"Die enigste manier om bestuursvlakke te diversifiseer is om betekenisvolle vaardigheidsontwikkeling vir voorheen benadeelde mense te herskep".
Business Unity South Africa (Busa) sê hy loof dié vooruitgang, maar die huidige baan en pas van verandering is onvoldoende om die Suid-Afrikaanse werksmag op meer senior vlakke te transformeer.
"Tensy ons betekenisvolle stappe neem sodat ons werksmag nie die wye demografie van ons samelewing op elke vlak weerspieël nie, sal ons die kans misloop om Suid-Afrika se volle menslikehulpbronpotensiaal te benut," sê Tanya Cohen, uitvoerende hoof van Busa.
Cohen sê daar moet wesenlike optrede wees. Busa beskou billike indiensneming en vaardigheidsontwikkeling as die grootste maniere om die nodige transformasie te verseker en toekomstige inklusiewe groei en indiensneming te vestig, sê Cohen.


















