Tot 27% van werkende Suid-Afrikaners het meer as een werk - hetsy om te oorleef of om 'n droom te probeer bewaarheid. Veral in die tegnologiebedryf is daar baie mense wat bykomende werk doen.

Ouer mense wat buitewerk doen, volg gewoonlik 'n passie of soek 'n nuwe uitdaging, terwyl jonger mense 'n bykomende inkomste wil hê, blyk uit navorsing wat die Henley Business School Africa in die eerste helfte van die jaar gedoen het.
Soortgelyke navorsing in Brittanje het gewys 25% van formele werkers doen bykomende werk, sê Jon Foster-Pedley, dekaan en direkteur van die Henley Business School Africa.
Sowat 69% van die groep dubbelwerkers sê hul lewe is interessanter en hulle is nou gelukkiger in hul hoofwerk.
Foster-Pedley sê die studie wys buitewerk hou verskeie ekonomiese voordele in - vir die maatskappy, die individu en die ekonomie in die algemeen.
Navorsing weerlê die idee dat mense wat buitewerk doen, hul werkgewer se hulpbronne en tyd steel of nie hul volle aandag aan hul hoofwerk gee nie.
In die studie word onderskei tussen side jobbing, waar 'n werker buite sy hoofwerk bykomende werk in sy veld doen vir 'n ander werkgewer, en side hustling, waar iemand iets buite sy kundigheidsveld doen of 'n eie onderneming in 'n afsonderlike bedryf het.
Van die meer as 1 158 respondente in die Suid-Afrikaanse studie het:
- 46,2% van die side hustlers een buitewerk;
- 38,8% het twee buitewerke;
- 10,9% het drie; en
- 4% het vier of meer.
Meer as 71% van die respondente sê hulle doen buitewerk om hul inkomste aan te vul, 54% leef 'n belangstelling of passie uit, 38% toets 'n sake-idee en 31% soek 'n nuwe uitdaging.
Werkers verdien 25% van hul inkomste van buitewerk wat met hul bedryf verband hou, en dié wat iets buite hul veld van kundigheid doen, sê dit maak 19,8% van hul inkomste uit.
Foster-Pedley sê die navorsing weerlê die idee dat mense wat buitewerk doen, hul werkgewer se hulpbronne en tyd steel of nie hul volle aandag aan hul hoofwerk gee nie.
Dié werknemers bestee gemiddeld 53 uur per week by hul werk - veel meer as die gemiddelde Suid-Afrikaner se 43,3 uur per week. Dan bestee hulle nog 18 uur per week aan die bykomende werk.
Werknemers wil buigsame werktye hê, hulle wil hul passie kan navolg en eendag hul eie ondernemings kan begin.
Nog voordele vir die hoofwerkgewer is dat die werkers nie van plan is om hul formele werkplek te verlaat nie, ongeag die sukses van hul buitewerk. Hulle sê hulle is gelukkiger, het meer innoverende idees wat hulle na hul hoofwerk bring en hulle leer vaardighede op eie koste aan tot voordeel van die werkgewer.
"Dié mense is entrepreneurs en dus 'n bate eerder as 'n bedreiging," sê hy.
Dit alles is tot voordeel van die breë ekonomie en bied 'n geleentheid vir werkskepping as die kantlyn-ondernemings groei. Daar is bevind 37% van mense wat bykomende werk buite hul veld doen, het minstens een persoon in diens, 86% een tot vier mense en 7% tussen vyf en nege werknemers. Foster-Pedley sê dit kan help om werkloosheid in Suid-Afrika te verminder.
Verreweg die meeste werkers is eerlik oor hul buitewerk en 90% van die respondente se werkgewers weet van hul kantlyn-aktiwiteite. "Ons is duidelik nie meer in die Donker Middeleeue nie. In Brittanje is maatskappye toenemend geneig om voorsiening vir buitewerk te maak omdat hulle die voordele vir hulself, die werkers en die ekonomie sien.
"Ons wil nouer met Suid-Afrikaanse maatskappye werk om te wys dit is 'n goeie, konstruktiewe verskynsel eerder as 'n probleem. Met die navorsing wil ons uiteindelik help om 'n raamwerk te skep wat werk- en korporatiewe gebruike verander en moontlik nasionale beleid oor werk beïnvloed."
Foster-Pedley sê dis duidelik ou sake- en werkpraktyke is uitgedien. Werknemers wil buigsame werktye hê, hulle wil hul passie kan navolg en eendag hul eie ondernemings kan begin.
"Die verslag behoort ons anders te laat dink oor die toekoms, eerder as om vasgevang te wees in 'n model gegrond op 'n historiese ekonomie wat nie meer in Suid-Afrika bestaan nie."





















