Beroepe

Vaarwel, nege-tot-vyf . . .

Mense aanvaar vryskutwerk om hul inkomste aan te vul, terwyl sommige selfs afstand doen van hul permanente poste om eerder so 'n inkomste te verdien.
Mense aanvaar vryskutwerk om hul inkomste aan te vul, terwyl sommige selfs afstand doen van hul permanente poste om eerder so 'n inkomste te verdien.

Marco Ryan*, 'n sagteware-ontwikkelaar, woon in Johannesburg, maar "werk" in Amerika. Vier jaar gelede het hy op 'n aanlyn advertensie gereageer van 'n Amerikaanse maatskappy wat na ontwikkelaars op soek was.

Die betaling was destyds nie waffers nie en die rand was baie sterker as nou. Hy het weggespring met 'n uur of twaalf se werk per week vir die Amerikaanse maatskappy, wat in die vermaaklikheidsbedryf betrokke is, en die betaling - asook die aantal werkure - het geleidelik toegeneem.

Voorheen was hy voltyds in diens, eers by 'n Johannesburgse sagtewareontwikkelingsmaatskappy wat die selfoonnetwerke bedien, en toe by 'n werwingsmaatskappy. Die finansiële krisis van 2008 het die arbeidsmark in duie laat stort, dus het hy besluit om dit met sagtewareontwikkeling op sy eie te waag.

Om van nege tot vyf vir 'n enkele werkgewer te werk, is hoegenaamd nie hoe 'n groot deel van die werksmag deesdae hul brood verdien nie.

—  McKinsey Global Institute

Een van die nadele daarvan om uit Johannesburg vir 'n Amerikaanse maatskappy te werk, is om dieselfde kantoorure as Amerika te moet handhaaf. Dit beteken hy gaan gewoonlik eers om sowat 04:00 bed toe, wat 'n tol op 'n mens se gesinslewe kan eis.

Die voordele balanseer met egter die nadele: Hy verdien Amerikaanse dollar noudat die rand swak is en werk deesdae vir 'n hele klomp Amerikaanse maatskappye.

Hy is deel van die sogenaamde "taak-ekonomie" ("gig economy"), wat die manier waarop ons werk en leef omvorm. Die tegnologie en hoëspoedinternettoegang het werksmoontlikhede laat ontstaan wat 'n dekade gelede eenvoudig nie bestaan het nie.

Daar is na raming meer as 4 000 Uber-bestuurders in Suid-Afrika. Met net 'n motor en 'n selfoon vreet hulle weg aan die dinosourusagtige taxibedryf, wat klaarblyklik die pad van die videokassetspeler gaan loop.

Airbnb het dieselfde uitwerking op die huisvestingsbedryf, met meer as 21 000 verblyfplekke wat in Suid-Afrika gelys is en verlede jaar 'n inkomste van R210 miljoen gegenereer het.

Airbnb het vir duisende Suid-Afrikaners met spaarkamers om te verhuur 'n geleentheid geskep om inkomste te verdien. Airbnb verhuur nou 2,3 miljoen kamers in 191 lande. Sy voorraad maak hom groter as die drie grootste hotelkettings - Hilton, Marriott en InterContinental - saam, sê Bloomberg.

Taak-ekonomie

Die taak-ekonomie is die lewendigste onder tegnologieslim millenniale en verklaar die opkoms van vryskutwebwerwe soos Upwork, Freelancer.com en People per Hour, waar feitlik enige vaardigheid denkbaar deesdae aangebied word, van verpleging tot argitektuur, boekhouding, skryfwerk en webontwerp.

Die taak-ekonomie is niks nuuts nie.

Sedert die koms van die eerste motorvoertuig werk motorwerktuigkundiges saans aan vriende se motors om hul inkomste aan te vul, of sien dokters ook privaat na pasiënte om. Wat nuut is, is hoe die tegnologie deur geografiese en sektorale grense sny.

Waarom 'n voltydse boekhouer aanstel, met al die regulatoriese en koste-implikasies daarvan, as iemand aan die anderkant van die wêreld dit bekwamer en goedkoper kan doen?

Vir werkgewers sowel as vryskutwerkers is daar nadele. Die werkgewer moet eers die vryskutter se bevoegdheid met spesifieke take toets voordat hy hom betrek, maar hy kan hom ook onmiddellik laat gaan as die werk nie na wense is nie. Vryskutters kry min van die byvoordele of voordele wat aan voltydse werknemers beskikbaar is - maar dit is iets wat albei partye vanuit die staanspoor weet.

Onafhanklik

'n Studie deur McKinsey Global Institute (MGI) getiteld Independent work: Choice, necessity, and the gig economy, het bevind dat 20% tot 30% van Amerika en Europa se bevolking van 'n werkende ouderdom die een of ander vorm van onafhanklike werk doen.

"Om van nege tot vyf vir 'n enkele werkgewer te werk, is hoegenaamd nie hoe 'n groot deel van die werksmag deesdae hul brood verdien nie," sê MGI. "Miljoene mense kry verskeie inkomstestrome bymekaar en werk onafhanklik, eerder as op 'n gestruktureerde betaalstaatbasis. Dit is beswaarlik 'n nuwe verskynsel, maar is nog nooit in die amptelike statistieke behoorlik gemeet nie - en die leemte wat daar gevolglik in die data is, verhinder 'n duidelike oorsig oor 'n groot klomp werksaamhede in die arbeidsmark."

MGI reken aanlyn talentplatforms soos Upwork sal die wêreldekonomie oor die volgende dekade met 2% laat groei om die ekwivalent van 72 miljoen voltydse poste te skep. Dié werkers val in vier kategorieë: vrye agente, ongereelde verdieners en dié wat noodgedwonge moet werk - die "onwilliges" en dié wat finansieel swaarkry. Verreweg die grootste kategorie is die ongereelde verdieners, wat 40% van die taak-ekonomie verteenwoordig, sê MGI.

Met ruweg die helfte van Suid-Afrika se jeug werkloos, bied die taak-ekonomie een van die enkele kanale wat vir hulle oop is. Onder die gereelde verdieners is 'n groot persentasie afgetredenes met spesifieke vaardighede, soos ingenieurs en argitekte.

MGI sê ander kragte kan die onafhanklike werksmag laat groei: Die verklaarde aspirasies van tradisionele werkers wat onafhanklik wil raak, die groot werklose en onaktiewe bevolkings wat wil werk, en die toenemende vraag na onafhanklike dienste onder verbruikers sowel as sakeondernemings.

*Marco Ryan is 'n nabye familielid van die skrywer.

Hierdie artikel is in die 15 Desember-uitgawe van Finweek wat op die rakke is.

Ook in hierdie uitgawe:

* Beleggings: Tyd vir 'n "risiko aan"-ingesteldheid

* Aandelemenings oor: Alexander Forbes, British American Tobacco en Omnia

Ciaran Ryan

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM