
Dit is maklik om vir mense werk te gee, maar om seker te maak hulle het die regte vaardighede en dissipline om die werk te doen, is 'n ander storie.
Dít is die struikelblok in werkskepping, eerder as 'n gebrek aan mense wat tersiêre opleiding het, sê Richard Brasher, uitvoerende hoof van Pick n Pay.
Hy was een van die sprekers by 'n konferensie vir sakelui wat Bloomberg die afgelope week in Kaapstad aangebied het.
Verskeie sprekers het hulle uitgespreek teen die regering se besluit om gratis tersiêre onderrig te bied eerder as opleiding in vaardighede wat mense op intreevlak werk sal gee.
Hulle het ook die versugting na beter produktiwiteit uitgespreek.
"Dit is baie positief om in tersiêre onderrig te belê, maar ek dink vir intreevlakwerksgeleenthede soek ons eerder basiese geletterdheid en syfervaardigheid," sê Brasher.
"As hulle die wil het, kan ons hulle die vaardighede leer.

"Ek as eenvoudige winkelier dink winkels, vervaardiging, landbou en toerisme bied goeie geleenthede om groot getalle mense van die staat se ondersteuningstruktuur te haal en in 'n werk te plaas."
Hy sê Pick n Pay kan binne die volgende jaar 25 000 mense in diens neem.
"Dit verg nie 'n MBA nie, dit verg nie 'n na-doktorale kwalifikasie nie, en dit verg nie dat jy die volle spektrum van bevoorregting hoef te kry wat baie van ons wat vandag hier sit gehad het nie.
"Dit verg van jou om hard te werk, deursettingsvermoë te hê, nuuskierig te wees en die basiese dissipline te hê om op te daag en jou beste te lewer," sê Brasher.
Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia, sonder ook vaardigheidskole vir byvoorbeeld loodgieters en elektrisiëns uit as een van die eerste dinge wat die regering behoort te vestig sodat werk geskep kan word.
Daarbenewens hoop sy die Mynbouhandves sal vinnig afgehandel word om sekerheid en dus werksgeleenthede in dié sektor te skep.
Die haakplekke met die reisdokumente wat vereis word vir mense van oorsee wat Suid-Afrika wil besoek, moet ook spoedig opgelos word om werkskepping in dié sektor te bespoedig.

Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American, sê die mynbousektor kon vandag twee keer groter gewees het as wat dit nou is as dit nie was vir die afgelope vyf jaar se onsekerheid nie.
Hy sê dié sektor is baie positief oor die nuwe regering en oor Gwede Mantashe as minister van minerale.
"Ons is op 'n nuwe plek en ons is opgewonde," sê hy.
Hy sê hulle is optimisties dat die nuwe leiers die beleidsekerheid en duidelike langtermynplan vir die mynbousektor sal bring wat nodig is dat die bedryf kan herleef.
Stephen Koseff, uitvoerende hoof van Investec, sê Suid-Afrika het al sedert middel Desember, toe Cyril Ramaphosa as president van die ANC verkies is, 'n ver pad gestap.
Hy sê egter die arbeidsmag moet "meer buigsaam" wees.
"Ons moet aan onsself dink as 'n land wat 'n gelukskoot getref het.
"Ons het goeie leiers, so ons kan nie nou meer net rondsit en ander mense verwyt nie."




















