Formele werknemers buite die landbousektor se totale bruto verdienste was in die derde kwartaal 4,2% hoër as in die tweede kwartaal van die jaar.

In die derde kwartaal het werkers altesame R653 miljard verdien vergeleke met R627 miljard in die tweede kwartaal ondanks die feit dat 16 000 minder mense in die derde kwartaal in diens was, blyk uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingsopname.
In die derde kwartaal was 9,733 miljoen mense in diens teenoor 9,749 miljoen in die kwartaal tot einde Junie.
Volgens SSA is salarisverhogings, bonusse en oortydbetaling verantwoordelik vir die styging in bruto verdienste.
In Augustus (die nuutste statistieke beskikbaar) het die gemiddelde maandelikse verdienste (bonusse en oortydbetaling ingesluit) met 3,5% tot R20 860 gestyg teenoor R20 163 einde Mei.
Teenoor Augustus 2017 se R19 865 per maand, is dit 'n styging van 5%.
- Die hoogste gemiddelde maandelikse vergoeding in Augustus was in die elektrisiteit-, gas- en waterverskaffingsektor met R42 081. Dit is 2,2% hoër op 'n kwartaalgrondslag en 7,1% hoër op 'n jaargrondslag.
- Daarna volg gemeenskapsdienste (meestal staatsinstellings) met vergoeding van R25 694 per maand en mynbou met gemiddeld R24 958. Dit verteenwoordig stygings van onderskeidelik 5,8% en 8,2% op 'n jaargrondslag.
- Die laagste gemiddelde maandelikse vergoeding in Augustus was in die konstruksie- en handelsektor met onderskeidelik R15 709 en R13 830 per maand. Dit is wel 4,5% en 5,3% hoër as 'n jaar gelede, sê SSA.
Op 'n kwartaalgrondslag was daar in die derde kwartaal 'n toename in gemiddelde maandelikse vergoeding in sewe uit die agt bedrywe vergeleke met die tweede kwartaal.
Die grootste stygings was in mynbou (7,3%), gemeenskapsdienste (4,6%) en vervaardiging (3,4%). In die elektrisiteitsektor het maandelikse vergoeding met 0,6% afgeneem.
Volgens SSA-syfers was die laer indiensneming in die derde kwartaal weens werkverliese in veral die vervaardigingsektor waar 7 000 poste verlore gegaan het, konstruksie (-5 000), handel, en mynbou en groefbedrywighede wat elk 2 000 minder mense in diens gehad het.
Op 'n jaargrondslag was indiensneming in September 0,2% hoër (17 000). Dis danksy meer werkers in die handelsektor (25 000), gemeenskapsdienste (22 000) en sakedienste (21 000).
Die skerp styging in indiensneming in gemeenskapsdienste is volgens SSA omdat talle tydelike werkers aangestel is om te help met kieserregistrasie vir volgende jaar se algemene verkiesing.
Op 'n jaargrondslag het indiensneming in die konstruksie-, vervaardiging- en vervoersektor afgeneem, sê SSA.
Lara Hodes, 'n ekonoom van Investec, sê in 'n nota die plaaslike arbeidsmark is steeds pap en verskeie faktore onderdruk die land se groeipotensiaal. Dit sluit in 'n powere beleggingsklimaat wat gepaardgaan met lae sakevertroue, Suid-Afrika se mededingendheid wat agteruitgaan en druk op die staatskas.
Strukturele hervormings, politieke sekerheid en deursigtigheid oor beleidsvoorstelle - spesifiek onteiening sonder vergoeding - sal help om vertroue 'n hupstoot te gee wat die ekonomie vinniger sal laat groei en hoër indiensneming sal verseker, sê sy.




















