
Die staat van inperking gaan nie net op een slag eindig nie en kenners meen die meeste ondernemings sal nog vir maande gesluit moet bly, wat die betaling van salarisse aan werknemers onmoontlik sal maak.
"Salarisse kan nie aanhou betaal word in hierdie omstandighede nie," sê John Copelyn, uitvoerende hoof van Hosken Consolidated Investments, 'n beleggingsbeheermaatskappy.
Copelyn was Woensdag op 'n aanlyn paneelgesprek saam met verskeie ander sakeleiers wat deur die Centre for Development and Enterprise (CDE) organiseer is.
Copelyn sê sommige maatskappye in die gasvryheidsektor tot mynwese neem onregstreeks tot 25 000 mense in diens.
Volgens Copelyn kan 20 000 van hulle tans doodeenvoudig nie werk nie.
Gevra hoe Hosken die behoeftes van sy werknemers balanseer met die behoeftes van die onderneming, verduidelik hy dit het nou gekom tot op 'n punt waar daar nie meer 'n kwessie van balans ter sprake is nie.
"Oorlewing troef alles. Dit is nie moontlik om salarisse aanhoudend te betaal wanneer daar geen inkomste vir die onderneming is tydens so 'n lang sluiting (weens die staat van inperking) nie."
Hosken is gedwing om vandeesmaand slegs 'n derde van sy werknemers se salarisse te betaal.
"Sonder regstreekse hulp van die regering sal ons volgende maand eenvoudig geen salarisse kan betaal nie."
Maar Copelyn reken die sluiting van ondernemings, veral in die vermaak-, restaurant- en gasvryheidsbedryf, sal nog vir maande duur.
Hy is wel bemoedig deur die ongekende samewerking tussen maatskappye en veral die regering tydens die krisis.
"In plaas van om net te kla, is die meeste maatskappye besig om saam te werk om mekaar, sowel as die samelewing, as geheel te help."
Norman Mbazima, voorsitter van Anglo American Platinum (Amplats), sê individuele maatskappye kan dalk sukkel om 'n balans te vind tussen hul maatskaplike verantwoordelikhede en hul bedryfsvereistes, maar deur samewerking is dit moontlik.
"Dis nie óf die ekonomie, óf gesondheid en welsyn nie. Albei kan terselfdertyd geprioritiseer word."
Met sommige gaan dit nog goed
Amplats se 30 000 werknemers het steeds vandeesmaand hul volle salaris ontvang en myngemeenskappe word nou met nuwe boorgate, mediese dienste en kos deur die maatskappy gehelp.
Myne mag ingevolge nuwe regulasies wat deur die regering aangekondig is stelselmatig sekere bedrywighede hervat ten spyte van die staat van inperking.
Maar Mbazima skryf 'n groot deel van sy vermoë om salarisse nog te kon betaal toe aan die maatskappy se goeie kontantposisie voordat die krisis getref het.
Vir eers hou hierdie likiditeit nog, en indien bedrywighede genoeg kan hervat, voorsien hy nie dat hy sy personeel in die steek sal moet laat nie.
Geleenthede
Die versekeraar Sanlam, aan die ander kant, beskou die staat van inperking as 'n geleentheid.
Van sy 21 500 werknemers werk 87% onversteurd van die huis af, sê Ian Kirk, uitvoerende hoof.
"As jy my 'n maand gelede gevra het of 87% van ons werksmag van die huis af kan werk sonder dat die besigheid in duie stort, het ek nee gesê," sê Kirk.
Oorlewing troef alles. Dit is nie moontlik om salarisse aanhoudend te betaal wanneer daar geen inkomste vir die onderneming is tydens so 'n lang sluiting (weens die staat van inperking) nie.
— John Copelyn
Sanlam beskou dit dus nou as 'n kans om sy langtermynplanne vir digitale transformasie te versnel.
Hy is ook in 'n posisie om selfs aan sy polishouers verligting deur byvoorbeeld laer premies te bied vanweë sy vermoë om aan te hou werk, asook die beduidende laer risikoprofiel van polishouers tydens die staat van inperking.
Die landboumaatskappy ZZ2 sê as 'n noodsaaklike diens gaan hy inderwaarheid voort soos normaal.
Thomas van Zyl, uitvoerende hoof, sê hulle oorweeg dit selfs om hul arbeidsmag van 10 000 tans uit te brei.
Maar dit is nie net 'n rooskleurige prentjie nie.
"Daar sal probleme wees as die virussiekte onder ons werksmag in die landelike gebiede begin uitbreek," sê Van Zyl.
Dan sal die onderneming erg sukkel. Hy sê dit is 'n enorme uitdaging vir ZZ2 om die veiligheid van sy werkers te verseker, maar tot dusver was sy pogings nog suksesvol.
Geen ondersteuning
Maar vir ander is ondersteuning afwesig.
Uber se bestuurders tel nie as werknemers van dié maatskappy nie, en het dus geen salaris wat aanhou betaal word nie.
Alon Lits, algemene bestuurder van Uber in Afrika suid van die Sahara, sê hulle verskaf nog dienste wat tydens die staat van inperking toegelaat kan word, maar dit is beduidend minder as gewoonlik.
Intussen is daar dus net 'n paar bestuurders wat mense vir noodsaaklike reise of aflewerings kan vervoer.
Lits sê die maatskappy reik nou uit na sy beste bestuurders om met hulle in kontak te bly, maar direkte finansiële ondersteuning vir onafhanklike kontrakteurs sal nou van die regering se kant moet kom.
Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die CDE, sê die uitdagings waar voor maatskappye te staan kom, is enorm.
"Dit gaan 'n marathon wees, nie 'n naelloop nie," waarsku sy.
"Daar is geen handleiding wat gevolg kan word nie."




















