Beroepe

VSA meen dis tyd dat studente oor dagga leer

Tersiêre onderriginstansies in Amerika meen dis hoog tyd dat studente hul kennis oor dagga uitbrei terwyl die nou meestal wettige dwelmmiddel die ekonomie omskep.

Skougangers na die Indo Expo-daggahandelskou, in Denver, Colorado, op 27 Januarie vanjaar. Die skou was 'n platform vir sake-tot-sake-netwerkbou waar produsente, verwerkers, groothandelaars en kleinhandelaars in die dagga-bedryf hulself bekend kon stel. Foto: Getty Images
Skougangers na die Indo Expo-daggahandelskou, in Denver, Colorado, op 27 Januarie vanjaar. Die skou was 'n platform vir sake-tot-sake-netwerkbou waar produsente, verwerkers, groothandelaars en kleinhandelaars in die dagga-bedryf hulself bekend kon stel. Foto: Getty Images

Verskeie kolleges en universiteite dwarsoor Amerika bied nou allerhande kursusse aan met 'n fokus op dagga, berig CBS Philadelphia.

Die persoonlike gebruik van dagga is nou al in tien deelstate wettig, met talle ander waar die plant vir mediese doeleindes benut kan word.

Daar is slegs drie uit die 50 deelstate waar die gebruik van dagga nog heeltemal onwettig is (Idaho, Suid-Dakota en Nabraska) en selfs hier word wetstoepassing rakende die dwelmmiddel reeds versag en gewysig.

Instellings vir tersiêre onderrig bied nou kursusse aan in onder meer die kultivering, chemiese samestelling, bemarking, nywerheidsvervaardiging, wetlike interpretasie en selfs genetiese komponente van dagga om alle aspekte van die produk in die Amerikaanse ekonomie te ondersteun. Navorsing wys daar is allerhande beroepe rakende dagga aan die ontwikkel, wat wissel van kweekhuis-daggakwekers, medisyneverspreiders, ontwikkelaars van eetbare produkte, bemarkingspesialiste, gehalteversekeringslaboratoriums, spesialisprokureurs, boere en farmaseutiese navorsers.

Die marknavorser Arcview, wat fokus op die ontwikkeling van verskillende daggabedrywe, sê dagga sal teen 2022 sowat 467 000 werkgeleenthede ondersteun.

The Washington Timesberig universiteite en kolleges word deur 'n nuwe generasie van studente oorval wat hulle wil voorberei op die dagga-ekonomie. Studente wil nou alles oor dagga hê - van grade wat heeltemal rondom dagga ontwerp is tot kursusse waar slegs sekere vakke die onderwerp takel.

"Ek sien baie boere wat uitreik en probeer om mense op te spoor wat iets van hierdie nuwe gewas weet," het Colton Welch, 'n landbouekonomiestudent wat 'n daggagerigte vak aan die Morrisville-Universiteit in die deelstaat New York neem, aan The Detroit Newsgesê.

"Ons begin nou eers om die wye toepassing van hierdie plant te sien."

Karson Humiston, stigter van Vangst, 'n werkagentskap wat spesialiseer in daggawerkgeleenthede, sê die nywerheidsvooruitsigte is uitstekend vir studente.

"Meer werkgeleenthede word in hierdie bedryf geskep as in enige ander bedryf in Noord-Amerika, met salarisse wat soms meer mededingend is as in ander nywerhede," sê Humiston.

"Met elke nuwe staat wat dagga wettig, gaan talle nuwe werkgeleenthede oop."

Selfs in deelstate waar die gebruik van dagga vir ontspanningsdoeleindes steeds onwettig is, waaronder New York, New Jersey en Connecticut, het sommige kolleges programme vir daggastudies begin in afwagting op veranderende wetgewing of om studente voor te berei vir werk in ander deelstate.

Die "groen" ekonomie kry beslis 'n nuwe betekenis in Amerika.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM