Beroepe

Werk só van die huis af

Om van die huis af te werk is nie altyd so maklik nie.Foto: Pixabay
Om van die huis af te werk is nie altyd so maklik nie.Foto: Pixabay

Vir baie mense was dit tot dusver net 'n droom om van die huis af te kan werk.

Met die uitbreking van die Covid-19-pandemie en pres. Cyril Ramaphosa wat dit Sondagaand tot 'n nasionale ramp verklaar het, het dié droom skielik moontlik geword.

Anja van Beek, 'n talentstrateeg, sê hoewel dit wonderlik klink om van die huis af te kan werk, is dit nie altyd so maklik nie.

Sy gee sewe wenke oor hoe om te verseker dat jy nét so produktief by die huis is as wat jy by die werk sou wees.

1. Hou by jou roetine

Van Beek sê hoewel die versoeking groot mag wees om jou daaglikse roetine aan te pas, is dit nié 'n goeie plan nie. Sy waarsku veral teen die versoeking om 'n bietjie later te slaap nét omdat jy nie kantoor toe hoef te pendel nie.

"Dit is belangrik om jou roetine te behou asof jy steeds kantoor toe moet gaan," sê sy.

"Jou brein is gewoond aan hierdie ritme en die seine wat dit aan jou liggaam stuur dat dit tyd is om te werk. Deur by dié roetine te hou, sal dit verseker dat jy jou produktiwiteit handhaaf wanneer jy van die huis af werk."

2. Kleredrag

Nog 'n groot versoeking wanneer jy van die huis af werk, is om sommer net so in jou nagklere te bly.

Van Beek waarsku ook hierteen.

"Toe ek 'n paar jaar gelede my eie onderneming begin het, het ek die gewoonte gehad om steeds netjies en gemaklik aan te trek, selfs wanneer dit nié 'n ‘kliëntedag' was nie. "Dit sal jou brein onbewustelik inlig dat dit nou tyd is vir ‘werk' en nie ‘ontspan' nie," sê sy.

3. Dit verg dissipline

Daar is baie afleidings tuis: Die TV, kinders wat tuis is, die luuksheid om op sosiale media rond te blaai sonder dat iemand kyk, wasgoed, skottelgoed ...

Van Beek sê die groot uitdaging is om dus onafhanklik te kan werk sonder dat jou aandag afgetrek word.

Sy beveel ook aan dat jy gereed met jou kollegas in kontak is deur middel van tegnologie soos WhatsApp-groepe, Skype of Microsoft Teams. Dit kan jou help om op jou werk te konsentreer en nie op ander afleidings nie.

4. 'n Plek om te werk

Rig 'n toegewyde ruimte in waar jy kan werk. Jou huismense moet duidelik kan sien dat jy besig is om te werk.

5. Hoe meet jy uitsette?

Jy kan nie mense wat van die huis af werk op 'n mikrovlak bestuur nie.

Een manier om dit te doen as jy 'n bestuurder is, is om 'n paar duidelike doelwitte en sleutel-meetinstrumente te stel.

Moet dit nié te ingewikkeld maak nie, waarsku van Beek.

6. Wees redelik én logies

Van Beek sê in Suid-Afrika is die uitdaging nie nét dat mense skielik van die huis af moet werk nie, maar ook dat hulle moontlik met beurtkrag te doen gaan kry.

Hoe gouer jy jou bestuurder inlig dat jy 'n probleem het met veral krag en/of 'n konneksie aan die internet, hoe beter. Kyk hoe julle saam 'n oplossing vir die probleem kan kry.

7. Stem saam oor die basiese beginsels

Spanne moet saamstem oor watter tegnologie gebruik moet word, hoe vergaderings gehou gaan word, waar inligting gestoor gaan word en hoe hulle met mekaar in kontak gaan bly. Daar moet ook ooreengekom word oor werkure.

"Dit is ook belangrik om saam te stem dat daar tye sal wees wanneer mense kinders wat lawaai of selfs honde wat blaf in die agtergrond gaan hoor tydens oproepe en virtuele vergaderings."

Van Beek sê dit is nou 'n goeie tyd om te onthou dat "ons almal is maar net mense, en dit is in orde".

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM