Beroepe

Werk vir 4 dae, word vir 5 betaal

'n Maatskappy in Nieu-Seeland het getoets hoe suksesvol 'n vierdagwerkweek sou wees.
'n Maatskappy in Nieu-Seeland het getoets hoe suksesvol 'n vierdagwerkweek sou wees.

Werk vir vier dae, maar word steeds vir vyf betaal?

Dit klink amper té goed om waar te wees.

'n Maatskappy in Auckland, Nieu-Seeland, het dit egter getoets en sê dit werk.

The Guardian berig Perpetual Guardian, 'n maatskappy wat trusts, testamente en boedelbeplanning behartig, het dié konsep in Maart en April vanjaar getoets.

Akademici het voor en tydens die toetslopie navorsing gedoen om vas te stel wat die invloed daarvan was.

Jarrod Haar, professor in menslikehulpbronbestuur by die Auckland-Universiteit vir Tegnologie, het gevind werknemers was baie meer tevrede met hul werk en private lewe én het boonop beter by die werk presteer.

24% meer werknemers het gevoel dat daar 'n baie beter balans tussen hul werk en private lewe was.

Werknemers het ook gesê hulle is baie minder gespanne.

The Guardian berig verder dat Helen Delaney, senior dosent by die Auckland-Universiteit se sakeskool, sê werknemers was meer gemotiveerd en toegewyd tot hul werk omdat hulle by die beplanning van die eksperiment ingesluit was.

"Werknemers het met verskeie inisiatiewe vorendag gekom oor hoe om produktiewer en doeltreffender te wees. Dit het die outomatisering van prosesse tot geen gebruik van die internet as dit nie met werk verband hou nie, ingesluit."

Andrew Barnes, stigter van die maatskappy wat met die idee vorendag gekom het, sê hy gaan die resultate van die toetslopie aan die direksie voorlê om te sien hoe dit oor die langtermyn by sy maatskappy in werking gestel kan word.

Die toetslopie het nie ongesiens verbygegaan nie.

Iain Lees-Galloway, minister verantwoordelik vir verhoudinge in die werkplek, sê die resultate was "baie interessant".

Hy sê verder hy sou graag wou sien dat meer ondernemings nuwe en verbeterde maniere hoe hulle werk sal ondersoek.

Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM