
As Suid-Afrika se ekonomie nie teen 5,5% per jaar groei nie, gaan dit 'n hele generasie neem voordat die probleem van werkloosheid in die land verlig word.
Om presies te wees, Suid-Afrika gaan vir 12 opeenvolgende jare 1,2 miljoen poste per jaar moet skep en die ekonomie gaan teen 10,9% per jaar moet groei as die land teen 2030 'n werkloosheidskoers van net 5,5% wil hê soos die wens in die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgespreek word.
Dié syfers is volgens die berekeninge van Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.
Schüssler het dié syfers Maandag uiteengesit op die bekendmaking van die vakbond Uasa se jaarlikse arbeidsverslag.
"Soos sake nou staan, gaan jy vir iemand moet sê: ‘Meneer of mevrou, jy staan nie 'n kans om werk te kry nie, maar daar is dalk 'n kans dat jou kind eendag as volwassene werk sal kry.' Jy kan nie so 'n situasie in 'n land hê nie," sê hy.
Die Reserwebank voorspel dat Suid-Afrika se ekonomie in 2018 met net 1,2% sal groei.
Luidens Statistieke Suid-Afrika se nuutste arbeidsmagpeiling, wat in Julie gepubliseer is, is die werkloosheidskoers tans 27,2%.
Ander feite wat Schüssler uitlig, sluit in:
- Suid-Afrika se werkloosheid is erger as dié van Zimbabwe of Griekeland;
- Suid-Afrikaners verteenwoordig net 1% van die wêreld se bevolking, tog verteenwoordig hulle 3,2% van die wêreld se werkloses;
- Geen ander land ter wêreld het 'n werkloosheidsyfer van hoër as 20% vir langer as 20 jaar soos wat hier die geval is nie; en

"Die grootste probleem in Suid-Afrika is ongetwyfeld werkloosheid, en nie ongelykheid nie," sê Schüssler.
Hy waarsku as Suid-Afrika die probleem van werkloosheid wil oplos, gaan hy nie net werk moet skep vir mense wat tans werkloos is nie, maar ook vir dié wat in die toekoms die arbeidsmark gaan betree.
Volgens Schüssler betree sowat 400 000 mense jaarliks die arbeidsmark.
"Ek dink die mees realistiese tydperk waarin Suid-Afrika sy werkloosheid tot 5,5% kan verlaag, is 22 jaar," sê Schüssler.
Gedurende dié tyd gaan die ekonomie elke jaar met tussen 6,5% en 9% moet groei en die land gaan elke jaar sowat 1,05 miljoen poste moet skep.
Schüssler sê vir die ekonomie om te groei is goeie beleid wat beleggings sal lok, noodsaaklik.
"Ons kan byvoorbeeld nie net aankondig ons gaan die Grondwet verander sonder dat ons 'n duidelike idee het van wat daarna gaan gebeur nie."
Nog wenke wat Schüssler gee:
- Suid-Afrika moet 'n spesifieke teiken hê, en nie net 'n doelwit nie, van wanneer en teen watter pas hy werkloosheid wil verminder;
- Die land moet besef as sy ekonomiese groei laer as 5% is, gaan werkloosheid nie binne die volgende 25 jaar tot aanvaarbare internasionale vlakke kan daal nie;
- Onderrig van beter gehalte is nodig, met meer leerlinge wat hul skoolloopbaan voltooi;
- Minder regulasies, sodat die private sektor vinniger kan groei;
- Meer mense moet aangemoedig word om vir hulself te werk; en
- Laer maatskappybelasting, wat maatskappye sal toelaat om meer van hul opbrengs te herbelê, waardeur werk geskep kan word.




















