
Die werkloosheidskoers onder vroue in Suid-Afrika was in die tweede kwartaal vanjaar 29,5% vergeleke met 25,3% onder mans, toon syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA).
Die SSA sê in 'n artikel op sy webblad sedert 2008 was werkloosheid onder vroue in die land telkens hoër as onder mans.
In die kwartaal tot einde Junie vanjaar het vroue 43,8% van die totale indiensneming in Suid-Afrika uitgemaak. In 2017 was dit 45%, volgens syfers van die Wêreldbank. Daarteenoor het vroue in Rusland 48,6% van die arbeidsmag uitgemaak, in China was dit 43,6%, in Brasilië 42,9% en in Indië net 24,6%.
Wêreldwyd het vroue verlede jaar 39,2% van die arbeidsmag uitgemaak.
Die SSA sê hoewel Suid-Afrika al gevorder het met geslagsgelykheid, beklee vroue steeds minder as 50% van invloedryke poste soos appèlhofregters (slegs 32%), advokate (31%) en ambassadeurs (30%).
Suid-Afrika se informele sektor, wat 17,4% van totale indiensneming verteenwoordig, is belangrik omdat dit werk bied aan baie mense wat sukkel om formele indiensneming te bekom. Die SSA sê werk in die informele sektor is veral gekonsentreerd in handel. Meer vroue as mans werk in dié sektor.




















