Beroepe

Werkstres: 58% sê 2018 was erger as tevore

Net 9% van beroepslui in Suid-Afrika sê hul stresvlakke is laag, terwyl meer as 45% hoë stresvlakke ervaar.

Die meeste beroepslui oefen om van werkstres ontslae te raak. Foto: iStock
Die meeste beroepslui oefen om van werkstres ontslae te raak. Foto: iStock

Buiten toenemende stres oor finansies, het 58,2% van respondente in 'n opname gesê hulle het in 2018 algeheel meer stres ervaar as in 2017, blyk uit die mediese fonds Profmed se stresindeks vir 2018.

Die indeks word saamgestel uit die antwoorde van 2 500 lede van Profmed, 'n geslote mediese skema wat fokus op beroepslui met 'n nagraadse kwalifikasie.

Graham Anderson, uitvoerende direkteur van Profmed, sê in 'n verklaring gegewe die swak ekonomie is dit verstaanbaar dat mense hulle al hoe meer bekommer oor hul finansies. Hy sê die toename in die getal beroepsmense wat aandui hulle ly aan stresverwante angstigheid en depressie is rede tot kommer.

"Hoër eise wat mense se loopbane stel, soos om laat of oortyd te werk, beteken hulle het minder tyd om met hul eweknieë te sosialiseer, wat daartoe bydra dat hulle afgesonder voel."

Tog meen meer as 75% van respondente hulle bestuur hul stresvlakke goed. In 2018 het minder as 10% verlof geneem weens stresverwante siektes.

Byna 60% van respondente het gesê hulle doen iets daadwerkliks omtrent hul stres.

Sowat 37% oefen, nagenoeg 21% gaan met vakansie om stres te verlig en net meer as 13% praat met familie of vriende en werk aan hul geestelike welstand.

Altesame 7,5% het medikasie gebruik om hul stres in bedwang te hou. Daarvan het 30,6% hulself gedokter, terwyl 20% voorskrifmedikasie gebruik het.

Sowat die helfte het gesê die stres het geen invloed op verhoudinge nie, maar 21% het gesê dit raak die verhouding met hul gade en 16% het gesê dit raak verhoudinge met gades, kinders, vriende en kollegas.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM