Beroepe

Wit mans verdien steeds die meeste

Van die topverdieners in Suid-Afrika (mense wat meer as R16 000 per maand verdien), is net 34% wit, terwyl swart mense 54% van die totaal uitmaak en Indiërs en bruin mense elk 6%.

Sowat 13% van Suid-Afrikaanse salaristrekkers verdien meer as R16 000 per maand.

In Suid-Afrika is die 13% topverdieners enigeen wat meer as R16 000 per maand verdiien.
In Suid-Afrika is die 13% topverdieners enigeen wat meer as R16 000 per maand verdiien.

Dié berekeninge deur Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, is gegrond op data uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se publikasie "Labour Market Dynamics in South Africa, 2016", die kwartaallikse indiensnemingsyfers, AMPS en SSA se huishoudelike opname.

Luidens die Labour Market Dynamics (LMD) 2016 maak swart mense 58% uit van dié wat tussen R16 001 en R30 000 per maand verdien, en wit mense 30,5%.

In die kategorie bo R83 301 maak wit mense 47,1% uit en swart mense 40,3%.

Schüssler sê hy gebruik ander data saam met die LMD-data omdat laasgenoemde met mediane werk wat sekere faktore buite rekening laat.

"As jy die mediaan gebruik, sal wit mense se verdienste altyd hoër wees as dié van swart mense, maar die me­diaan wys byvoorbeeld nie dat wit mense se ouderdom meer as tien jaar hoër is as dié van swart mense nie. Dit wys ook nie die vlak van opvoeding nie."

Meer wit Suid-Afrikaners verdien meer as R30 000 per maand.
Meer wit Suid-Afrikaners verdien meer as R30 000 per maand.

Hy sê sy berekeninge wys hoe van die syfers oor tyd verander het. As byvoorbeeld gekyk word na die inkomste van almal wat tot pensioenfondse bydra, het net minder as 40% van die inkomste in 2000 na swart mense (volgens die breë definisie wat swart, bruin en Indiër-mense insluit) gegaan en 60,2% na wit mense. Teen 2016 het dié persentasies omgeswaai met 74% van die inkomste na swart mense en 25,9% na wit mense.

Dr. Neva Makgetla, 'n senior ekonoom van die onafhanklike ekonomiese navorsingsinstituut TIPS, sê verteenwoordiging van swart mense onder die rykes het oor die laaste paar jaar verbeter, maar stem steeds nie ooreen met die bevolkingsamestelling nie.

Afrikane maak sowat 85% van die bevolking uit en sowat die helfte van die 10% rykste huishoudings. Feitlik alle wit mense val onder die 20% rykstes en byna geen in die armste 60% Suid-Afrikaners nie.

Gesprek oor ongelykheid

In 'n vroeëre artikel in die publikasie New South African Review 6, "Inequality and Class: Polarities and Policies", skryf Makgetla hoewel ekonomiese ongelykheid steeds verband hou met ras, het die groep rykes meer verteenwoordigend geword.

"Die eintlike vraag is of verteenwoordiging van ryk mense volgens ras enigsins help om ongelykheid in Suid-Afrika te verstaan, veral omdat ons Gini-koëffisiënt net so hoog is soos 20 jaar gelede," sê sy.

Suid-Afrika het 'n Gini van 0,63. Hoe nader aan 1, hoe erger die ongelykheid in 'n land.

Historiese voordeel

"Nog 'n probleem is dat wit huishoudings meer welvaart as swart huishoudings erf weens historiese bevoorregting. Selfs al verdien swart mense dieselfde, het hulle steeds minder hulpbronne en is dus nie in so 'n goeie posisie om geleenthede soos gehalte- opvoeding te benut nie.

"Hulle kry ook swaarder as siekte of werksverlies hul verdienste onderbreek."

Gemiddelde vergoeding

Gilad Isaacs, 'n onafhanklike ekonoom, sê hoewel dit moeilik is om kommentaar te lewer sonder kennis van Schüssler se presiese metodologie, lyk die syfers geloofwaardig. Op grond van LMD 2015-syfers vir mense wat meer as R16 000 per maand verdien, het Isaacs gevind 52,4% van dié verdieners was swart, 29,6% wit, 14,3% bruin en 3,8% Indiërs.

Hy sê daar moet in ag geneem word hoe die gemiddelde vergoeding vir dié verdieners tussen rasgroepe verskil. Vir wit mense is dit R47 085,37 per maand, terwyl dit vir swart mense R32 720,89 is.

Verdienste bo R50 000 per maand is 'n beter aanduiding van rykdom. Dan is 38,3% van dié verdieners swart, teenoor 39,4% wit, 18,9% bruin en 3,3% Indiërs.

Isaacs sê hoewel hy onverwerkte data uit die opname gebruik het sonder enige aanpassing vir die verhouding van elke rasgroep in die bevolking, sal dit nie 'n baie groot impak hê nie.

Makgetla sê wittes is steeds in verhouding groter verdieners as ander rasgroepe. Selfs al word voorsiening gemaak vir verskil in opvoeding, verdien wit mans meer as enigiemand anders, dit wil sê die mediaan-betaling vir wit mans is hoër as die mediaan vir swart vroue, swart mans en wit vroue.

Sy skryf ook in die artikel in 2015 het die 10% armste huishoudings in die land minder as R10 000 per jaar verdien, terwyl die 10% rykstes meer as R265 000 verdien het.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM