Geldsake

Die ‘kleingeld’ wat jy op kitskos bestee, word gou gróót geld

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pasop vir die ‘onskuldige’ aankope van wegneemetes – dit kan jou maandelikse begroting mettertyd benadeel. Foto: Getty Images
Pasop vir die ‘onskuldige’ aankope van wegneemetes – dit kan jou maandelikse begroting mettertyd benadeel. Foto: Getty Images

Beperk die Big Mac of Streetwise Two wat jy op pad huis toe koop en spaar eerder 'n bietjie van dié geld om 'n noodfonds op te bou, raai Suid-Afrika se grootste bank in terme van bates aan.

Standard Bank se data wat uit kliënte se transaksies versamel is, toon Suid-Afrikaners wat sukkel om maandeliks hul beperkte besteebare inkomste te rek, skiet hulself ook in die voet met moontlik onnodige uitgawes soos wegneemetes.

Noodfonds-krisis

45% van sy kliënte beskik oor gebrekkige geld om selfs basiese noodgevalle te kan dek, sê Standard Bank.

Boonop is dit juis individue wat as middelklas-verbruikers beskou kan word - kliënte wat van private bankdienste gebruik maak en gemiddeld tussen R25 000 en R58 000 per maand verdien - wat die groot sondaars is.

Standard Bank sê 'n derde van dié groep erken hulle het tans geen noodfonds nie.

LEES OOK |Skuld-skerp of afgestomp? Verbruikers meer gerus oor hul geldsake

Doret Jooste, hoof van geldbestuur en raadgewing, sê Standard Bank staar hom nie blind teen verbruikers se opdraande stryd in 'n swak ekonomie nie.

"Ons is deeglik daarvan bewus dat dit vir mense moeilik is om hul inkomste te laat groei weens eksterne faktore wat buite hul beheer is," sê sy.

Beheer wat jy kan

Daarom is dit juis nog belangriker om koste te hersien wat binne 'n verbruiker se beheer is, soos wegneemetes.

Luidens Standard Bank se data bestee sy kliënte gemiddeld R775 per maand aan wegneemetes en ook, in verskeie gevalle, die verwante afleweringskoste van 'n Mr D of Uber Eats.

Standard Bank beskou dié bedrag selfs as konserwatief omdat dit nie aankope van wegneemetes en kruideniersware by kleinhandelaars, of die kitskosuitgawes van kliënte wat rekeninge by verskeie banke het, byreken nie.

Besteding op wegneemetes word veral deur jonger verbruikers in hul "20's en 30's" gedryf, en uiteraard hou hoër besteding met hoër inkomste verband.

Suid-Afrikaanse verbruikers se maandelikse geldsake word toenemend bemoeilik deur koste verbonde aan subskripsies, sê Standard Bank. Foto: Shutterstock
Suid-Afrikaanse verbruikers se maandelikse geldsake word toenemend bemoeilik deur koste verbonde aan subskripsies, sê Standard Bank. Foto: Shutterstock

Koste van gerief

Verbruikers wat R60 000 of meer per maand verdien, bestee gemiddeld meer as R1 000 maandeliks op wegneemetes, 'n bedrag wat in vakansietye tot R1 300 styg.

"Dié aankope is gewoonlik etes vir 'n hele gesin. Wegneemetes, veral as dit deur 'n afleweringsdiens afgelewer word, word deur dié groep verbruikers geregverdig weens die gerieflikheid daarvan," sê Jooste.

Dit beteken egter nie dat laer- en middelslaginkomstegroepe nie ook in dié strik trap nie.

Verbruikers wat minder as R20 000 per maand verdien, bestee gemiddeld R472 op wegneemetes en verbruikers wat R25 000 verdien, R615.

‘Onskuldige' aankope stapel op

Standard Bank is ook bekommerd oor sy groep kliënte wat tussen R25 000 en R60 000 maandeliks verdien en wat gemiddeld 2,5% van hul besteebare inkomste aan wegneemetes bestee. Dit kan moontlik in 'n kopseer ontaard omdat dié verbruikers ook geneig is om groter skuldlaste te hê weens verbande en motorpaaiemente.

LEES OOK |Meer as 6 uit 10 ‘middeljariges' moet saans ná werk nog geld verdien

"Gereelde laebedrag-aankope dra mettertyd by tot 'n gebrek aan kontantvloei in die middel van 'n maand," sê Jooste.

"Dit kom as onskadelik en onskuldig voor, maar as dié aankope gereeld plaasvind, dan stapel die bedrag vinnig op."

Hou subskripsiekoste dop

'n Ander klein jakkals wat die wingerd verniel, is verbruikers se toenemende besteding om op aanlyn dienste, meestal apps, in te teken.

Standard Bank se data toon maandelikse subskripsiekoste wissel tussen R336 vir laerinkomste-verbruikers tot R1 255 vir hul hoë-inkomste-eweknieë.

As verbruikers slegs hul maandelikse besteding aan wegneemetes en subskripsies halveer, sou hulle gemiddeld tussen R400 en R1 100 per maand kan spaar, afhangend van hul inkomstevlak.

Dis nie 'n slegte bedrag om 'n noodfonds mee te begin nie, sê Jooste.

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM