Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal teen die einde van die jaar "in werking begin tree", sê dr. Nicolas Crisp van die nasionale gesondheidsdepartement wat die inwerkingstelling daarvan lei.

Crisp is in April deur die kabinet as adjunk-direkteur-generaal van die NGV aangestel.
Hy sê dinge gaan nie alles al volgende jaar verander nie, maar sekere goed wel.
"Klein goedjies gaan verander, soos stelsels wat ingestel sal word en hoe pasiëntrekords gehou word."
Hy het benadruk dat die NGV stapsgewys in werking sal tree en dat daar 'n oorgangstyd sal wees waarin mense steeds vrywillig bydraes tot mediese fondse sal kan maak.
Volgens hom sal mediese fondse aanvanklik nog nodig wees, so ook in die oorgangstyd. "Maar wanneer 'n behoorlike stelsel ingestel is waar al die verskaffers in die private en staatsektor geakkrediteer is en aan almal dienste verskaf, sal mense begin vertroue kry dat hulle nie mediese fondse nodig het nie, behalwe as dit nie van die voordele is wat die NGV dek nie."
Land het dit nodig
"Die NGV is nie die paaiboelie waarvoor almal dit uitkryt nie," het hy op 'n praatjie van Profmed gesê.
Die land het die NGV nodig omdat die gesondheidstelsel 'n gemors is. "Ons het verreweg die swakste gesondheidsuitkomste ter wêreld."
Dit stem ooreen met die armste lande ter wêreld s'n en is "omdat ons ons geld wanbestee".
Crisp sê die eerste probleem met die ontwerp van die gesondheidsektor se struktuur is dat die staatsektor baie kompleks is met tien departemente van gesondheid wat elkeen outonoom van mekaar is. "Daar is nie iets soos 'n gesondheidsbegroting in die openbare sektor nie, dit is nege provinsiale begrotings. Die geld gaan nie na gesondheidsorg toe nie, maar na die provinsie toe wat besluit hoeveel word op gesondheidsorg, opvoeding en die ander funksies bestee. Dit is moeilik om selfs in die staatsektor mense tussen die provinsies te skuif."
Aan die ander kant is daar meer as 70 mediese fondse wat elk 'n klomp opsies het wat baie kompleks is.
Elkeen het hul eie trustees, aktuarisse en administrateurs.
Dit het 'n invloed op praktyke omdat hulle sekere kundigheid benodig om te bepaal of 'n verbruiker dekking het of nie.
LEES OOK: Wat jy van NGV se 3 fases moet weet
"Dit is uiters kompleks en gesondheidsorg in die private sektor moet gekoop word van die hospitaal, apart van die dokter, apart van die laboratorium en apart van radioloë. Dit is baie ondoeltreffend. Selfs al is van ons gesondheidsorg baie goed en ding dit mee met die beste ter wêreld, word dit ondermyn deur hierdie sistemiese probleme.
"Die stelsel is morsig, onsamehangend en dupliserend en die deurlopende sorg, wat veral pasiënte met chroniese siektes benodig, gaan verlore."
Stapsgewys
Groot hervormings van die gesondheidsektor is nodig om uiteindelik by die NGV uit te kom. Daar sal "stapsgewys in fases op grond van 'n gedefinieerde plan" daarby uitgekom word.
"Mense moet gesondheidsorg kry wanneer hulle dit benodig. Ons kan ook nie 'n situasie hê waar mense bankrot raak wanneer hul medies opraak en hulle 'n huis of motor moet verkoop om gesondheidsorg te kry nie."
Die land mik na 'n stelsel van net een betaler vir gesondheidsorg. Die idee is om 'n skeiding tussen die finansierder en die verskaffers te hê.
Die staat betaal en verskaf tans gesondheidsorg.
Dit beteken die aankoper van gesondheidsdienste sal hoofsaaklik die fonds wees en die verskaffers sal van die private sektor en die staat wees, volgens hom.
Crisp sê hulle sal stuk-stuk by die NGV uitkom, en daar gaan met primêre gesondheidsorg begin word waar die finansiering gaan plaasvind op grond van kontrakte met eenhede op 'n kapitasiegrondslag ('n jaarlikse oorhoofse betaling aan 'n groep praktisyns om dienste te lewer).
"Dan word die geld aan 'n aangewese gemeenskap toegewys en die rolspelers in die gemeenskap raak gesamentlik betrokke om die nodige sorg te verskaf."
Algemene praktisyns, verpleërs, aptekers en gemeenskapswerkers is belangrik hiervoor.
Die eenhede word tans ontwerp.

Die regering se elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) waardeur inentings bestuur word, is op die NGV se registrasieplatform vir pasiënte gebou. Die data wat gebruik word vir die monitering en bestuur van entstowwe is op dieselfde platform wat vir pasiëntrekords gebruik gaan word.
"Ons het nou die ervaring om pasiëntrekords rondom inentings te bou. Daar is geen rede vir praktisyns om hul rekords te skrap nie, hul stelsels moet kan integreer met die NGV s'n."
Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) wat dokters verteenwoordig, meen die NGV gaan nie 'n werklikheid wees teen 2026 nie, wat die sperdatum is vir sy volledige inwerkingstelling. Dit is gegrond op wat sy tydens die pandemie gesien het, en hoe moeilik dit is om algemene praktisyns aan boord te kry om inentingsplekke te verskaf. Dit het te doen met hoe moeilik dit is om deel van die meesterlys te raak en om op die staat se EVDS te kom.
Crisp sê hy glo nie daar is 'n regte of verkeerde tyd om die NGV te begin nie, en die hele openbare gesondheidsektor hoef nie herstel te word voordat dit begin nie. "Alles moet reggemaak word en dit moet stuk-stuk gedoen word. Die goed wat 'n vermorsing en dupliserend is en nie sin maak nie, moet uitgesny word."
Of daar erns is met dinge wat reggemaak moet word om die publiek se vertroue terug te kry, sê hy: "Beslis. Ek sou nie uit aftrede gehaal word as daar nie erns was nie. Dit gaan nie net oor die staatsektor wat reggeruk moet word nie, maar ook die private sektor. Daar is 'n lang lys van verbeteringe wat aangebring word, maar nie alles kan op dieselfde tyd reggemaak word nie, veral nie met die derde vlaag (van die pandemie) en baie mense wat moeg is nie.
"Die private sektor moet ook hul sake in orde kry. Ons sal 'n daling sien in die getal mediese fondse as een van die inisiatiewe wat in die sektor gaan plaasvind."
Voordele duister
Coetzee wonder hoe die finansiering van die NGV bespreek kan word, maar dit steeds onduidelik is watter siektes en dienste daardeur gedek gaan word.
"Watter sorg gaan verskaf word? Ons weet ons begin met primêre gesondheidsorg, maar dis soos om te sê ek het R5 000 en ek gaan 'n motor koop. Watter motor gaan jy koop en gaan dit genoeg wees vir die motor?
"Mediese fondse kan nie weggeneem word as 'n mens nie eens weet wat gefinansier gaan word nie. Byvoorbeeld weet ons nie of hulle net diabetes gaan finansier of hoë bloeddruk ook nie."
Craig Comrie, uitvoerende hoof van Profmed, sê hulle voorsien dat mediese fondse nog die komende tien tot 15 jaar 'n belangrike rol gaan speel.
Crisp sê mediese fondse gaan voordele kan dek wat die NGV nie dek nie.
Kan die land dit bekostig?
Oor of die land dit kan bekostig, sê Crisp die land bestee reeds 8,5% van die BBP aan gesondheidsorg.
"Dit is meer as wat die meeste lande bestee, maar hoekom kry ons sulke swak resultate? Dis omdat ons so baie geld mors op duplisering en om goed te doen wat nie nodig is nie. Dit is om sistemiese redes."
Die R250 miljard wat in die staat bestee word, moet op een plek wees sodat dit nie na tien verskillende regerings gaan nie. Hy erken dit gaan 'n bedreiging wees vir provinsies, want dit is amper 'n derde van hul begrotings.
"Dieselfde is in die private sektor nodig. In plaas van vrywillige bydraes maak (tot mediese fondse) - wat in elk geval 'n vorm van belasting is, want dis net 'n vrywillige belasting - moet die inkomste deur middel van belasting ingesamel word. Dit is nie bykomend tot mediesefondsbydraes nie, maar in plaas van bydraes tot mediese fondse. As ek byvoorbeeld R5 000 per maand vir 'n mediese fonds betaal, moet ek R4 000 per maand betaal aan die NGV en niks vir die mediese fonds nie, behalwe as daar iets is wat die nasionale fonds nie dek nie."




















