Mediese fondse

Nog ’n samevoeging vir Discovery

Die grootste mediese skema in die land, die Discovery Health Mediese Skema (DHMS), is besig met nog 'n samevoeging - dié keer met die Quantum Medical Aid Society (Qmas).

Discovery Health Medical Scheme absorbeer die klein, geslote fonds Quantum.
Discovery Health Medical Scheme absorbeer die klein, geslote fonds Quantum.

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het die publiek ingelig dat die dokumente oor die beoogde samevoeging tot einde Maart vir inspeksie en kommentaar op sy webtuiste, dié van DHMS en Quantum beskikbaar is. Die samevoeging is veronderstel om begin April in werking te tree.

Quantum gaan deel word van DHMS.

Die konsultante en aktuarisse NMG sê in die blootleggingsdokument oor die samevoeging Quantum is 'n klein geslote skema waarvan die deelnemende werkgewers Bidvest en Sun International is.

"Quantum het 'n stelselmatige daling in lidmaatskap die afgelope tien jaar ervaar. Die getal hooflede het van 7 078 in 2011 tot 3 273 einde September 2020 gedaal."

Terselfdertyd het die gemiddelde ouderdom van lede en afhanklikes van 30,6 jaar tot 37,6 jaar verhoog.

Die gemiddelde ouderdom in die bedryf is 33,1 jaar.

"Die huidige gemiddelde ouderdom van die Quantum-begunstigdes is dus 4,5 jaar ouer as die bedryfsgemiddelde."

Dit is nadelig vir 'n mediese skema as sy gemiddelde ouderdom styg omdat hy dan minder jonger lede het en eise vinniger begin styg.

Quantum se verwagte reserwes wat ingevolge regulasie 29 van die Wet op Mediese Skemas opsygesit moet word, beloop R145,6 miljoen - wat 'n solvensieverhouding van 92% is. Dit is ver bo die wetsvereiste solvensieverhouding van 25% van jaarlikse premies.

Discovery het meer as 1,3 miljoen hooflede gehad einde September.

Die gemiddelde ouderdom van die skema was 35,8 jaar.

Die DHMS se verwagte 2020-reserwes is R27,5 miljard - wat 'n solvensieverhouding van 37% is.

Die rede vir die samevoeging is omdat die trustees glo Quantum gaan nie op die duur volhoubaar wees nie.

"Die tendens van die daling in lede en toename in ouderdom gaan voortduur. Die impak van Covid-19, veral op Sun International, gaan na verwagting die tendens vererger met die verlies aan lede."

Die maatskappy het einde Augustus aangekondig hy gaan mense aflê.

Hoewel die verwagte reserwes van die skema vir 2020 hoog is, is dit hoofsaaklik weens lede wat verloor is omdat die skema die afgelope vyf jaar 'n bedryfsverlies gely het.

Die laer as verwagte eise in 2020 in ooreenstemming met wat elders in die bedryf ervaar is, het ook die solvensieverhouding opgestoot.

NMG sê gegewe sy ongunstige demografiese profiel en die verwagting dat dit gaan vererger, is dit onwaarskynlik dat hy 'n aantreklike teiken vir 'n samesmelting met ander skemas gaan wees. "Die verwagte solvensieverhouding van 92% vergoed egter vir die ongunstige demografiese profiel omdat dit gebruik kan word om die hoër as verwagte eise van Quantum se lede te subsidieer.

"Dit is dus belangrik vir Quantum om 'n vennoot te kry vir die samevoeging voordat sy solvensieverhouding verlaag tot 'n vlak wat nie meer vergoed vir die skema se onaantreklike demografiese profiel nie."

Quantum het glo talle ander fondse oorweeg, maar DHMS is as die geskikste beskou.

Een rede is omdat die oordrag naatloos behoort te wees omdat hulle deur dieselfde administrateur bestuur word, naamlik Discovery Health.

Quantum is in Januarie 1983 gestig.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM