Die kontraktering van dokters in die private sektor om staatspasiënte te behandel was baie duur en dit is dalk nie die kostedoeltreffendste manier om die primêre gesondheidsorgdienste vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te verbeter nie.
Dit is luidens 'n navorsingsverslag deur 'n konsortium van navorsers wat deur Genesis Analytics gelei is. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag die verslag uitgereik.

Die kontraktering van algemene praktisyns uit die private sektor was een van die loodsprojekte wat in die eerste fase van die NGV op die proef gestel is. Daar is in 2012 hiermee begin en aan die einde van die 2018-boekjaar is daar met 330 dokters kontrakte gesluit.
Die afgelope drie jaar is die meeste van die begroting, naamlik R1,02 miljard, aan die kontraktering van algemene praktisyns en lede van ander gesondheidsberoepe bestee. Ingesluit die mense van die ander gesondheidsberoepe was daar verlede jaar altesaam 626 praktisyns gekontrakteer.
Die tien NGV-projekte het gemengde sukses op die verskillende gebiede behaal. Die ander projekte het behels om klinieke te verbeter, gesondheidspanne in wyke en spesialisspanne in distrikte op die been te bring, asook skoolgesondheidsprogramme, die beter beskikbaarheid van medisyne, om infrastruktuur op te knap en om personeelbehoeftes te bepaal.
Die navorsers kon nie die algehele invloed van die projekte bepaal nie.
"Dit is weens verskeie belangrike redes moeilik om die algehele invloed van die projekte op die toegang tot en die gehalte van gesondheidsdienste in die distrikte te bepaal," lui die verslag.
Die redes sluit in dat daar nie 'n kontrolegroep was nie omdat die projekte nie net in die distrikte wat vir die loodsprojekte gekies is, geïmplementeer is nie, maar ook in ander distrikte. Probleme is ook ervaar omdat 'n aanvanklike maatstaf geskort het waarteen die sukses van 'n projek gemeet moes word en omdat die prestasieaanwysers dit moeilik gemaak het om die prestasie oor tyd te meet.
Die navorsers het elke projek ook afsonderlik geëvalueer om te bepaal watter daarvan suksesvol of onsuksesvol was en wat tot hul sukses of mislukking bygedra het. Van die suksesfaktore sluit in sterk politieke wil en 'n goeie moniteringstelsel wat met die aanvang van die projek ingestel is. Die faktore wat by mislukkings 'n rol gespeel het, sluit gebrekkige beplanning en 'n tekort aan hulpbronne in, asook onvoldoende monitering om te verseker dat daar betyds van koers verander kan word, indien nodig.
Die navorsers sê verder dat die reeds bekende probleme in die openbare gesondheidsorg, soos swak beplanning, swak begroting, 'n gebrek aan gekwalifiseerde personeel en swak bestuur, die implementering van die loodsprojekte belemmer het. Geskiedkundig is daar ook nie dokters by primêre gesondheidsorggeriewe soos klinieke en gemeenskapsentrums waar verpleegsters in beheer is nie.
"Die bekendstelling van die projek om algemene praktisyns by primêre gesondheidsorggeriewe te kontrakteer, het die toegang tot dokters verbeter," lui die verslag.
Die bekendstelling van die projek om algemene praktisyns by primêre gesondheidsorggeriewe te kontrakteer, het die toegang tot dokters verbeter.
Danksy die dokters se teenwoordigheid het pasiënte 'n verbetering in die gehalte van sorg waargeneem.
"Die kontraktering van die dokters het egter nie op skaal plaasgevind nie en in baie van die distrikte het die bestuurders van die gesondheidsgeriewe aangemeld dat hulle nie 'n algemene praktisyn het wat daar gekontrakteer is nie."
Die program het aanvanklik gesukkel om groot getalle algemene praktisyns te lok, maar het later beter gevaar.
Luidens die verslag was die bestuur van die projek egter steeds onvoldoende.
'n Gebrek aan voldoende beplanning het 'n invloed gehad op die koördinasie tussen die gekontrakteerde dokters en die nasionale departement.
Daar was ook 'n probleem met hul betaling. Die gekontrakteerde dokters is as konsultante beskou en is nie in die departement se betaalstelsel geïntegreer nie. Dit het beteken dat die departementsbeleid nie altyd streng toegepas is nie en dat daar baie meer geëis is as waarvoor begroot is.
"Hierdie skuiwergat het veroorsaak dat die gekontrakteerde dokters kon eis vir 'n ongestaafde getal ure en uitgawes wat tipies nie aan ander personeel in die openbare sektor betaal sou word nie. Die styging in die gesondheidsgeriewe se salarisrekeninge weens die kontraktering van algemene praktisyns, het dit onbekostigbaar gemaak om dit vol te hou en wyer uit te brei. Boonop was die invloed van die dienste gelewer op die werklike gehalte van sorg onbekend."
Volgens die navorsers het die kontraktering van dokters ook die onbedoelde gevolg gehad dat die beperkte hulpbronne in die openbare sektor verskuif is. Dokters in die openbare sektor het glo uit voltydse poste bedank om van die kontrakte te kry wat met privaat dokters gesluit is.
"Hoewel 'n toename van dokters in die primêre gesondheidsorg dalk wenslik is, is dit dalk tans nie op groot skaal bekostigbaar of die kostedoeltreffendste metode om die uitkomste by dié geriewe te verbeter nie."
Aanbevelings in die verslag
1. Die kontraktering van algemene praktisyns moet verskuif van werksessies by staatsklinieke na die kontraktering van dokters by hul eie praktyke om daar staatspasiënte te sien.
Die vergoeding van die dokters moet ook verkieslik plaasvind op grond van 'n kapitaalvergoedingsmodel of vergoedingstelsels wat op uitkoms gegrond is en nie op die huidige betaal-vir-die-diens-model nie. Die verskil is dat die kapitaalmodel behels dat 'n dokter 'n vaste bedrag betaal word vir elke pasiënt wat gesien word, terwyl die betaal-vir-die-diens-model behels dat 'n dokter betaal word op grond van die prosedures wat hy uitvoer wanneer die pasiënt behandel word. Laasgenoemde word algemeen beskou as 'n model wat dokters aanmoedig om meer dienste te lewer omdat die betaling wat ontvang word van die kwantiteit van prosedures afhang en nie van die gehalte nie.
2. Die kontrakte met algemene praktisyns en lede van ander gesondheidsberoepe moet deeglik gemonitor word en prosesse moet ingestel word vir die gereelde toesighouding daaroor. Daar moet byvoorbeeld gereelde oudits gedoen word om bedrog te voorkom. Duidelike prestasieaanwysers is ook nodig.




















