Covid-19 was 'n een-keer-in-'n-leeftyd-gebeurtenis wat belastinginkomste met 7,8% of R105,9 miljard laat krimp het in die boekjaar tot einde Maart verlede jaar.
Dít is hoe die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hul belastingstatistieke-verslag vir 2021 opsom.
Die verslag is Dinsdag uitgereik en toon hoe die impak van die pandemie in alle belastingkategorieë merkbaar was, maar veral op binnelandse belastings en belastings op internasionale handel.
Hoofpunte uit die verslag
- Belastinginkomste het van R1 114 miljard in 2016-'17 tot R1 249,7 miljard in 2020-'21 gegroei, teen 'n saamgestelde jaarkoers van 2,2%. Dit is egter aansienlik laer as die saamgestelde jaargroei van 9% in die vyf jaar van 2011-'12 tot 2016-'17. Die inkomste van R1 249,7 miljard vir 2020-'21 is boonop steeds laer as die R1 287 miljard van 2018-'19;
- Persoonlike inkomstebelasting is teen 39,1% steeds die grootste belastingbron. Dié bydrae as persentasie van totale belasting het gegroei vanaf die 37,2% in 2016-'17;
- Belasting op toegevoegde waarde (BTW) se bydrae tot totale belasting het gegroei van die 25,3% in 2016-'17 tot 26,5%, maar maatskappybelasting se bydrae het gekrimp van 18,1% tot 16,4%;
- 40,1% van die totaal of net meer as 2 miljoen van belastingbetalers wat aangeslaan is vir belasting, is in Gauteng geregistreer;
- Daar was vir die 2020-'21-belastingjaar 23,9 miljoen mense wat vir inkomstebelasting geregistreer was, 4,1% meer as die 22,9 miljoen in 2019-'20;
- Uit die 812 306 maatskappye wat teen September 2021 vir die 2019-belastingjaar aangeslaan is, het 24% 'n positiewe belastinginkomste gehad, 48,3% het 'n belasbare inkomste van nul gehad, en die oorblywende 27,7% het 'n verlies aangeteken.
Die SAID het in 2020-'21 aansienlik minder geld deur maatskappybelasting ingevorder. Dit het met 4,9% of R10,6 miljard gekrimp. Die daling was veral weens die swakker prestasie van sektore soos versekering, eiendom, sakedienste en finansiële tussengangers.
In teenstelling hiermee het die mynbousektor se bydrae gegroei danksy sterk prysstygings, veral van ystererts en die platinumgroepmetale.
Die SAID meld ook dat die impak van die pandemie op maatskappybelasting nie so erg was as verwag nie, vergeleke met die internasionale geldkrisis van 2008-'09 toe maatskappybelasting met R30,2 miljard of 18% gekrimp het.
Die SAID se syfers oor sy reeks omgewingsbelastings vertel ook 'n interessante verhaal oor die impak van Covid-19. Die inkomste uit lughawepassasier-belasting op internasionale reise het van R1,068 miljard in 2019-'20 tot net R138 miljoen in 2020-'21 getuimel. Dis weens die ineenstorting van die lugvaartbedryf en toerisme.
Die heffing op plastieksakke het wel van R318 miljoen tot R581 miljoen gestyg, nadat die heffing in April 2020 tot 25c per sak verhoog is van 12c per sak.
Die koolstofbelasting wat op 1 Junie 2019 in werking getree het, het in 2020-'21 R650 miljoen vir die staatskas ingebring. Die regering het maatskappye weens die pandemie aanvanklike verligting en uitstel gebied vir die betaling van die koolstofbelasting.
Die gesondheidsbevorderingsheffing (oftewel suikerbelasting) het in 2020-'21 byna 16% minder ingesamel as die vorige jaar, teen R2,114 miljard. In die eerste jaar waarin dit ingestel is (om suikerverbruik te probeer beperk), het dit R3,248 miljard ingesamel.
Die SAID spog dat sy koste om belasting in te vorder meer doeltreffend geword het. In 2016-'17 was die koste 0,93% van totale belastinginkomste, en dit het sedertdien tot 0,85% verbeter.

Belastingverligting
Die gemiddelde belastinglas op alle belastingbetalers het toegeneem van 20,6% in die 2017-belastingjaar tot 21,3% in 2018 en 22,4% in 2020, wys die verslag.
Die gemiddelde toename in die belastinglas in die 2018-belastingjaar is hoofsaaklik weens die verhoging van die top- marginale koers van 41% in daardie jaar tot 45%.
Maar die SAID paai wel met die omvang van belastingverligting wat oor die 25 jaar van 1995 tot 2020 gebied is. Dit sluit die verligting vir fiskale sleur in, waar belastingkerwe aangepas word om vir die uitwerking van inflasie te vergoed. 'n Individu wat byvoorbeeld in 1995 'n belasbare inkomste van R100 000 gehad het, sou volgens die SAID in daardie jaar teen 'n gemiddelde koers van 33,8% belas gewees het. As sy inkomste tot en met 2020 met inflasie bygehou het, sou hy dan R418 193 verdien het, maar danksy belastingverligting oor die jare sou hy teen 'n effektiewe koers van 20,2% belas gewees het pleks van 'n koers van 40,8% daarsonder.





















