Geldsake

Verhogings: 2018 het min mense ‘ryker’ gemaak

2018 was een van die moeilikste jare uit die afgelope vyf jaar om 'n verhoging te beding.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za. Foto: Elvira Wood
Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za. Foto: Elvira Wood

Die gemiddelde salarisse ná aftrekkings was in Desember slegs 0,5% hoër as in Desember 2017 nadat die uitwerking van inflasie in berekening gebring is, volgens BankservAfrica se indeks van besteebare salarisse.

Die gemiddelde reële salaris wat ná aftrekkings in werkende mense se bankrekening inbetaal is, het in Desember R14 094 beloop.

Die nominale styging - dus besteebare salarisse voordat inflasie in ag geneem is - in salarisse was R15 045, 'n styging van 5,5%.

Vir die hele 2018 het reële salarisse gemiddeld met net 0,4% gestyg. Dis die kleinste styging sedert 2016, toe reële salarisse met 1,1% gedaal het. In dié jaar was inflasie 6,4%.

Die syfers vir 2018 was uiters wisselvallig soos wat inflasie gestyg en gedaal het. Die skerp styging in die petrolprys in die derde kwartaal het selfs in 'n stadium beteken salarisse se koopkrag het gedaal.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, wat die indeks saamstel, sê as salarisse so stadig styg, sal dit 180 jaar duur voordat jou salaris in reële waarde verdubbel.

Vir die hele 2018 was die reële gemiddelde salaris R13 990 per maand, maar voor inflasie R15 018 per maand.

"Die swak ekonomie help Suid-Afrikaners nie om salarisverhogings te kry nie," sê Schüssler. Hoewel daar mense is wat verhogings van selfs 7% (1,8% in reële waarde) gekry het, was daar ander wat met veel minder tevrede moes wees.

"Baie privatesektorfirmas bly onder druk, wat beteken verhogings was minder as inflasie. Baie werknemers sukkel om hul lewenspeil te handhaaf."

Pensioentrekkers

Pensioentrekkers het 'n styging van 3,5% in hul gemiddelde reële pensioenuitbetaling tot R6 855 beleef vergeleke met Desember 2017. Nominaal was dit 'n styging van 8,8% tot R7 374.

Vir die hele 2018 het pensioene reëel met 4,6% gestyg. Dit beteken pensioene het letterlik dubbeld die jaar se inflasiekoers, wat ook 4,6% was, gestyg.

Die feit dat pensioentrekkers meer geld ontvang, beteken waarskynlik hulle onttrek meer as hul beleggingsopbrengs vir 2018. Nie één bateklas het soveel beter as inflasie gevaar nie.

Schüssler reken pensioentrekkers gaan nietemin oor die volgende paar jaar al hoe belangriker word vir kleinhandelverkope, en dus vir die ekonomie, gegewe dat hul koopkrag met meer styg as dié van salaristrekkers.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM