Kleinsake

Francois Williams: Boelie banke klein ondernemings?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Arrie Rautenbach, die Absa-groep se uitvoerende hoof.Foto: Deon Raath
Arrie Rautenbach, die Absa-groep se uitvoerende hoof.Foto: Deon Raath

Banke en selfoonmaatskappye is die korporatiewe diere wat verbruikers die graagste haat.

Maar jy het hulle nodig.

Arrie Rautenbach, uitvoerende hoof van Absa, skryf onlangs in 'n rubriek op News24 hoe banke maatskaplike skeppings is en empatie moet toon in moeilike tye wanneer ondernemings en verbruikers sukkel.

Hulle het tydens die Covid-19-pandemie veral die geleentheid gehad om dit te doen, met onder meer betaalvakansies op skuldterugbetalings wat meer geredelik toegestaan is, veral aan mense wat tydelik afgelê is of wie se inkomste verminder is weens die inperkingsregulasies.

Die regering het met sy bankwaarborgskema ook 'n poging aangewend - suksesvol of nié - om banke te steun om ondernemings te help wat deur die pandemie onder druk geplaas is.

Maar dan vind jy steeds kleinsakeondernemings wat lyk asof die banke hulle versaak het, en hulle eerder skop terwyl hulle lê pleks van die empatie toon waarvan Rautenbach praat.

Dan is die bank nou nie juis "deur die bank aan jou kant" soos die ou Standard Bank-klingel gelui het nie. Meer soos die berugte blou bank wat tydens die Julie-plundery van 2021 eenkant gelos en net daar laat staan is. Was dit maar die Phala Phala-bank dan kon daar darem so 'n paar miljoene uitgekom het.

Francois Williams
Francois Williams

Vat nou maar die geval van Lee-Anne van Nieuwenhuizen, 'n kleinsakevrou van Pretoria wat boumateriaal soos kroonlyste uit polistireen vervaardig en aan die boubedryf lewer.

Haar onderneming het kwaai gely tydens die pandemie, en daarby is haar verskaffers erg getref tydens die daaropvolgende plundertogte in Julie 2021.

Dit het veroorsaak dat sy 'n oortrokke rekening van byna R500 000 opgebou het.

Van Nieuwenhuizen sê sy het haar huis en 'n hele paar voertuie en toerusting vir haar onderneming met Absa-lenings gekoop en oor twee dekades nooit 'n paaiement gemis nie. Maar begin vanjaar kry sy skielik sommer prokureursbriewe van Absa wat eis dat sy dadelik haar skuld terugbetaal of hulle dreig om haar huis te verkoop.

Is sy ooit skuldberadingsdienste aangebied soos wat Rautenbach in sy rubriek beweer dat banke aanbied aan kliënte wat in die moeilikheid is? Nee, sê Van Nieuwenhuizen, nooit nie.

Waar sy bereid was om R10 000 per maand af te betaal aan die skuld, het Absa in Februarie skielik aangedring op 'n verdubbeling in die paaiement tot R20 000 én dat die skuld teen die einde van die maand volledig afgelos moes word.

Om te dreig om iemand se huis van maklik R2 miljoen tot R3 miljoen te wil verkoop om skuld van skaars R500 000 te delg, klink darem te veel soos om 'n muskiet met 'n G5-kanon dood te skiet.

Sy moes ook bewys lewer van haar onderneming se volledige finansiële state.

Teen dié tyd betaal sy al byna R40 000 per maand af, maar waarsku as sy dit nie meer kan bybring nie, sal dit weens die bank se onredelikheid wees om haar tegemoet te kom dat sy en haar vier werkers en hul gesinne hul lewensmiddele verloor.

Van Nieuwenhuizen meen dit was regtig boeliegedrag van Absa om sommer uit die staanspoor sy prokureurs op haar te sit. Sy ontdek toe boonop dat die borgstelling wat haar man in 2012 op 'n sakelening van haar geteken het, 'n sogenaamde onbeperkte borgstelling was, en dus ook gegeld het toe sy in 2019 'n verdere lening gekry het.

Sy meen dit was misleidend van Absa om nie die fynskrif hieroor deeglik met haar deur te gaan toe sy die lenings aangegaan het nie.

In korrespondensie van die bank hou die bank vol dat hy deurgaans binne sy volle regte opgetree het.

Absa se media-afdeling wou nie antwoord op enige van Netwerk24 se vrae oor haar geval nie, behalwe om te sê 'n "verhoudingebestuurder" sal haar skakel. Sy sê weke later wag sy nou nog vir dié oproep.

Sy het intussen ook al by die ombud vir bankdienste gaan kla oor wat sy meen boeliegedrag deur Absa is. Die ombud het Absa tot 11 April gegee om eers intern die geskil met haar te probeer oplos.

Dit bring 'n mens by die punt wat Jo Mitchell-Marais, 'n kundige in sakeherstrukturering by die ouditgroep Deloitte, onlangs gemaak het in die aanloop tot Februarie se begroting. Dit is dat klein ondernemings soos alleeneienaars of vennootskappe nie tans die soort beskerming teen bankrotskap het wat groter maatskappye het via sakeredding nie.

Mitchell-Marais maak die belangrike punt dat dit goedkoper is om 'n werk te behou as om een te skep. Sy meen dus die regering behoort werk te maak daarvan om wetgewing oor bankrotskap omvattend te hersien sodat kleinsakelui wat in die geldknyp is, beter gehelp kan word.

Intussen behoort banke darem minder ooglopend soos boelies op te tree.

Om te dreig om iemand se huis van maklik R2 miljoen tot R3 miljoen te wil verkoop om skuld van skaars R500 000 te delg, klink darem te veel soos om 'n muskiet met 'n G5-kanon dood te skiet.

• Francois Williams is 'n senior sakeverslaggewer van Netwerk24. Sy mening is sy eie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM