Landbou

Bladskud: Nuwe wynmaker by Doolhof rol moue op

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rüdger van Wyk
Rüdger van Wyk

Rüdger van Wyk het hom by Doolhof in Wellington aangesluit as hul nuwe wynmaker.

"Ons is baie opgewonde om Rüdger as deel van die span te verwelkom," sê die eienaar, Philip Richards.

"Ons is besig om Doolhof te vestig as een van die topwynbestemmings in die Kaap en sy aanstelling neem ons 'n stappie nader én versterk die storie van die ongelooflike terroir van ons wyn."

Richards het die landgoed in Desember 2020 gekoop.

Van Wyk is reeds volstoom aan die gang by Doolhoof.

Sy vorige posisie was by die Stellenbosse wynplaas Stark-Condé, en voor dit was hy by Nitida in Durbanville, waar hy 'n deurslaggewende rol gespeel het in die plaas se oorgang na organiese wingerde.

Van Wyk is aan die Tuinroete gebore en het in 2010 begin met sy studie aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy het aansoek gedoen om deel te wees van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program.

Sy aanvaarding vir die program het daartoe gelei dat Abrie Beeslaar sy mentor was en hy kon gaan werk in die wynstreke van Frankryk.

Van Wyk se wyne is gereeld bo-aan die lys van toppresteerders, soos op die lyste van Wine Advocate, Tim Atkin se spesiale Suid-Afrikaanse-verslag "Wine Spectator", Stellenbosch Cabernet Sauvignon Top-100, die Decanter-wynpryse en Wine Enthusiast.

Hy het ook al 'n trofee op die Trofeewynskou verower en 'n rits van sy wyne het vyf sterre in die Platter-wyngids gekry.

In 2018 is hy aangewys as die Diners Club Jong Wyn­maker van die Jaar.

Hy het ook erkenning van Jancis Robinson, een van die wêreld se voorste wynkritici, ontvang. Sy het die volgende in 2022 oor hom geskryf: "Rüdger van Wyk gaan van krag tot krag . . . Dit is beslis die moeite werd om op die uitkyk te wees vir sy wyne."

"(Die aanstelling by) Doolhof is soos 'n droom wat waar word," sê Van Wyk.

"Benewens sy gevestigde reputasie sluit die handelsmerk 'n kombinasie van storie, ongelooflike wildernis, volhoubaarheidspraktyke en mikroklimaat-diversiteit in waarby ek aanklank vind."

Volgens Van Wyk is die uitdaging nou vir hom om goeie wyne van die druiwe van daardie spesiale ligging te maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM