Argentinië
Met wat gereken word die koudste winter en herfs in 60 jaar, was ryp vanjaar 'n groot probleem vir die bloubessies in Argentinië.
Francisco Estrada, president van Apratuc, noem dat ten spyte van die implementering van sisteme om ryp te voorkom, was daar steeds skade in areas met erge weersomstandighede.
Hy skat dat sowat 20% van die provinsie Tucumán se produksie-oppervlak geaffekteer is - veral die vrugte wat blootgestel is.
Volgens Estrada was daar verliese van die vrugte in die vroeë stadiums, maar hulle is steeds optimisties oor die seisoen.
Pole
In vergelyking met verlede jaar, het die bloubessieseisoen in Pole twee weke vroeër begin as verlede jaar.
Volgens Sandra StefaniakSygula, mede-eienaar van die Berrytrade, het die seisoen op 24 Junie begin.
"Sover is dit 'n baie goeie seisoen vir ons in terme van gehalte.
"Poolse bloubessies van sekere variëteite toon ook baie potensiaal vir langafstand-vervoer," sê sy.
Weens hierdie variëteite wat verder vervoer sal kan word, sal hulle uitvoer na die Midde- en Verre-Ooste kan ontwikkel. Dié lande tesame met Duitsland is hierdie jaar hul fokus.
"Die weersomstandighede het hierdie jaar 'n impak op die bloubessies gehad. Nie net die ryp in lente nie, maar ook die wisseling in temperatuur tydens lente."
Hierdie bedryf het verlede jaar aansienlike beleggings gemaak, wat insluit 'n skuif na 'n moderne fasiliteit met 3 000 m2 verkoelingspasie en hulle het nuwe sorteerders aangeskaf wat meer as 50 ton bloubessies per dag kan sorteer.
Volgens haar is dit te vroeg om te sê hoe die oesvolumes gaan lyk.
Die Poolse bloubessieseisoen gaan eers in Oktober afgehandel wees.
"Daar is van die kwekers wat staatmaak op rekordoeste hierdie seisoen, maar aan die ander kant is daar kwekers wat 30-40% minder vrugte as verlede jaar het," sê Stefaniak-Sygula.
Namibië
Daar is beslis potensiaal om die bloubessieplaas in die Kavango-Oos-streek van Namibië uit te brei.
Die Mashare-bloubessieprojek is die eerste van sy soort in hierdie land en voer uit na verskeie internasionale markte in onder meer Europa, Brittanje en die Midde-Ooste.
Die projek strek oor 60 ha en hulle beplan om volgende jaar tot 90 ha te groei.
Die langtermyn-doelwit is om meer as 280 ha te plant. Hulle neem onder meer 100 heeltydse werknemers in diens en skep werk vir 800 seisoenwerkers tydens oestyd.
Georgië
Die bloubessieproduksie in Georgië gaan vanjaar sy uitvoer verdubbel en ongeveer $40 miljoen vir die land inbring.
Hul landbouminister, Otar Sjamoegia, het die aankondiging gemaak en gesê dat die syfer sal aanhou groei in die toekoms danksy ondersteuning van die regering.
Een van die voorste maatskappye in hul bedryf is Agro Veli en hulle verwag om 120-130 ton bloubessies vanjaar te oes. Hul uitvoervolume is tans 55 ton.
Die land het reeds meer as $58 miljoen in landboulenings uitgereik vir die verbouing van bloubessies.
Dit is 'n nuwe, maar belowende gewas in die land met die gemiddelde opbrengs wat 14,5 ton per ha is.
Verlede jaar het hulle 4 000 ton bloubessies geproduseer en hulle verwag die syfer om teen 2027 tot 25 000 ton te styg.
Hulle voer uit na onder meer Rusland, Pole, Nederland, Duitsland, en meer.
- Vertaal en verwerk van freshplaza.com.




















