Sedert 2016 het die invoervolumes van bloubessies wêreldwyd met 226% gestyg - 'n bewys dat daar 'n groot vraag na dié vruggies is.
Luidens 'n verslag van die internasionale bloubessie-organisasie (IBO) het die invoerpryse van bloubessies verlede jaar 'n rekordprys van $7,01 per kilogram bereik - sowat 8% meer as die vorige rekord van $6,48 per kilogram in 2016.
Hierdie verslag is onlangs op die Fall Creek Connect-dag by dié maatskappy se kwekery in die Paarl bespreek.
Op die dag het verskeie verteenwoordigers van Fall Creek van oor die wêreld heen insigte oor bloubessies gedeel, asook meer oor nuwe variëteite wat tans ontwikkel word.
"Die vraag na bloubessies groei voortdurend en die pryse is goed," sê Barbara Botes, Fall Creek se gebiedsbestuurder vir Suider-Afrika.
"Suid-Afrikaanse bessies is ook belangrik oor die wêreld heen, want die bessies is van 'n hoë gehalte en dit bevat goeie genetika."
Die IBO-verslag het syfers gedeel wat toon dat daar vanjaar 'n styging in invoerpryse was ondanks die afname in invoervolumes nadat dit 'n hoogtepunt in 2022 bereik het. Een van die redes vir albei tendense is die 23%-afname in uitvoervolumes vanuit Peru.
Invoervolumes het egter aansienlik gegroei en luidens die verslag word die opwaartse groei van invoervolumes konstant deur die aanvraag van verbruikers ondersteun.
Antonia Alamo Bermudo, Fall Creek se bedryfsbestuurder in Europa, die Midde-Ooste en Afrika, het oor die jongste ontwikkelings in die maatskappy se kwekerye gesels.
Fall Creek het reeds vier kwekerye in drie lande en is besig om verder uit te brei, sê hy.
Navorsing is ook 'n belangrike pilaar van hierdie maatskappy en Bermudo sê daar is tans sowat 50 navorsingsonderwerpe oor die wêreld heen wat hulle ondersoek. Dit sluit in proewe in verskeie lande wat fokus op volhoubare onderwerpe soos doeltreffende watergebruik en biostimulante, asook proewe oor verkoeling wat fokus op verskeping.
"Ons werk daaraan om gehalte te verseker deur middel van al die navorsing en proewe wat ons doen," sê hy.
Sekoya skiet uit
Mark David, Sekoya se algemene bestuurder, het via video ingeskakel op die dag en meer vertel oor hierdie bessies se sukses.
Sekoya is 'n sake-eenheid binne Fall Creek en voorsien 12 maande van die jaar bloubessies. Hulle het vyf variëteite beskikbaar, naamlik Sekoya Crunch, Sekoya Grande, Sekoya Fiesta, Sekoya Beauty en Sekoya Pop.
"Sekoya het bloubessieplante oor die wêreld heen en daar is verskillende variëteite om produksie vir die hele jaar te verseker. Ons fokus daarop om konsekwentheid en betroubaarheid aan verbruikers te verskaf," sê hy.
Die gewildheid van en vraag na bloubessies groei teen 'n vinnige tempo, sê David. In 2023 het Sekoya 6 000 ha se aanplantings gehad, maar vanjaar het dit reeds verdubbel na 12 000 ha. Sekoya beplan om teen 2030 reeds 29 000 ha se aanplantings te hê.
Sekoya se syfers toon ook dat die volumes baie goed groei en het gestyg van 30 miljoen kg in 2023 na 78 miljoen kg in 2024. As die sake-eenheid se strategie vir aanplantings realiseer, sal die volumes tot 425 miljoen kg groei - en altesame 15 miljoen kg hiervan sal vanuit Suider-Afrika kom.
Navorsing toon dat daar 'n groeiende vraag na bloubessies oor die wêreld heen is en David sê hulle werk daaraan om genoeg bloubessies aan die mark te lewer om in dié vraag te voorsien.
Nuwe variëteite
Soos die invoersyfers, beweeg die ontwikkeling van bloubessies ook voortdurend in 'n positiewe rigting.
Chiara Maccera Núñez, Fall Creek se navorsingsbestuurder vir Peru, het op die Connect-dag 'n blik op die FCM14-057- en FCM17-132-variëteite gebied.
Met goeie opbrengste én 'n uitstekende raklewe is die FCM14-057-variëteit se voordele iets om na uit te sien. Volgens Núñez het hierdie variëteit 'n baie langer raklewe as ander bloubessievariëteite - iets wat dit veral ideaal vir die uitvoermark maak.
Daar is egter ook voordele vir die verbruiker, want hierdie bessie is krakerig, groot en ferm, en bied heerlike geure.
Die FCM17-132-variëteit is self 'n groot, ferm bessie met goeie geure en bied ook 'n uitstekende raklewe, maar dit is sy uitstekende opbrengs wat hom veral laat uitstaan.
Núñez sê die bessies toon reeds sedert die eerste seisoen goeie opbrengste. Die enigste nadeel is dat dit 'n opleistelsel vereis as gevolg van die variëteit se uitgestrekte struktuur.
Die FCM14-057-variëteit is veral geskik vir die SuidAfrikaanse klimaat, aangesien dit goed vaar in minder koue gebiede, terwyl die FCM17-132-variëteit goed vaar in oorgangseisoene.
Volgens Núñez toon albei variëteite goeie potensiaal, maar die navorsing is in die proeftydperk en Fall Creek moet nog daaraan werk om te verseker dat die bessies in verskillende groeigebiede aanpas.





















