Alles wat blink is nie goud nie, maar vir 'n Wes-Kaapse byeboer beteken heuning meestal goud, want sy besondere heuning maak behoorlik opslae - nie net hier nie, maar ook in die buiteland.
Eddy Rubé van Rubées Raw Honey is tydens vanjaar se heuningkompetisie by Graan SA se Nampo Kaap op Bredasdorp met 'n klompie pryse vereer nadat sy byprodukte en verwante aktiwiteite die hoogste punte behaal het.

Dit volg nadat hy in Maart vanjaar tydens die Big Buzz-heuningfees in Somerset-Wes die eerste byeboer in Suid-Afrika geword het om die gesogte Britse Blue Ribbon-prys te verower.
Dié heuning- en heuningwyn-kompetisie is verlede jaar die eerste keer aangebied en die wenners het daarna in Oktober vir die eerste keer aan die internasionale Britse heuningkompetisie deelgeneem.
Drie Britse beoordelaars onder leiding van Enid Brown, wêreldbekende heuningbeoordelaar, was toe so beïndruk met die standaard van die Wes-Kaapse heuning dat hulle vanjaar op eie koste die Buzz bygewoon en as beoordelaars opgetree het.
Rubé het sewe jaar gelede met bye begin boer en het in 2023 vir die eerste keer aan die Wes-Kaap Byevereniging (WKBV) se heuningkompetisie deelgeneem. Sommer uit die staanspoor het hy vier pryse opgeraap, onder meer 'n eerste plek vir sy vloeibare medium-heuning en tweede plek vir vloeibare ligte heuning.
By die Afrika-streek-Apimondia-simposium in KwaZulu-Natal later in Maart 2023 het hy 'n eerste plek met sy etikette en verpakking ontvang, asook vermelding vir sy vloeibare ligte heuning.
By verlede jaar se Nampo het sy heuning ook uitgeblink en het hy naas bogenoemde kategorieë ook vir vloeibare donker heuning en vir kusstreke 'n prys ontvang. Sy donker fynbos-, boegoe- en bloekomheuning het ook eervolle vermelding gekry.
Skittervertoning by Nampo
By vanjaar se Nampo het hy bykans skoonskip gemaak. In 'n neutedop kom dit op die volgende neer: Rubé het die hoogste puntetoekenning gekry, naamlik 100% vir vloeibare renosterveldheuning, bloekomheuning van eucalyptus cladocalyx en bergfynbosheuning.
Hy het ook 'n eerste plek en twee items met eervolle vermelding (dus meer as 95%) gekry vir medium- vloeibare heuning.
"Net 'n eerste, tweede en derde plek word aangewys, maar as die produk baie goed is en meer as 95% kry, kry die produk eervolle vermelding," verduidelik hy.
Vir sy heuning wat nie volgens kleur nie maar volgens die tipe byvoeding (forage) geklassifiseer word, het hy 'n eerste en derde plek vir fynbosheuning gekry, 'n eerste en tweede plek vir corymbia ficifolia- of rooiblombloekomheuning, asook eervolle vermelding vir bloekom- en vygieheuning.
Die sagteset-heuning het twee tweede pryse verower en die wasblokke 'n eerste en derde plek. Sagteset-heuning verander sonder enige ingryping van 'n helder tot 'n sagte, wit smeerbare heuning.
Rubé het twee werkers wat hom met alles help - Macfalen Ngwara en Brian Mwantola, wat die prys vir die beste wasblokke gekry het, vertel Eddy. "Ons is 'n span en ons deel graag ons suksesse met mekaar!"
Die was word net gebruik om nuwe wasvelle te maak, want sowat 1,5 kg heuning lewer een wasvel.
"Die wasvelle wat ons in die korwe sit, spaar die bye 'n klomp werk, want hulle hoef nie self die was te produseer wat hulle gebruik om die korf mee te bou nie."
Rubées Raw Honey se verpakking en etiket het eerste plek verower. Die ontwerp is deur 'n vriendin, Giuliana Loi Cockcroft van Jack Russell Designs, gedoen. Hul kommersiële uitstalling het ook 'n tweede en derde plek verower.
Dit was vir Rubé 'n groot verrassing toe hul heuningwyn (mead) boonop 'n derde plek gekry het. Hy het heuningwyn begin maak nadat hy 'n demonstrasie deur 'n bekende in dié veld bygewoon het.
"Hoewel daar ook swartbessies en bosbessies in sy tuin is, het hy heuning van kei-appels gebruik om sy eerste heuningwyn te maak. Die wyn word in glashouers verouder. Die heuningwyn wat die prys verower het, was maar ses maande oud. Ek het eers ná die tyd uitgevind heuningwyn moet ten minste twee jaar lank verouder," sê hy.
Die kersie op die koek is Rubé se foto van 'n koninginby wat vir die eerste keer uit haar eiersel kruip wat ook erkenning gekry het as die beste foto.
Natuurlik is hy baie trots op al die pryse, maar dit is ook goed vir die bemarking van Rubée's Raw Honey.
"Dit gee vir my internasionale erkenning en lidmaatskap tot Brittanje se nasionale heuningskou wat my toelaat om vir vanjaar se kompetisie in te skryf."
Weens die blootstelling wat sy heuning kry, is hy deur die eienaar van 'n bekende supermarkgroep genader om sy heuning te verkoop. "Ons produseer nie kratte vol nie, maar die heuning wat ons wel met sorg produseer, is 'n nismarkproduk en mense is bereid om daarvoor te betaal."
Hortoloog word byeboer
Rubé het in Durbanville in Kaapstad grootgeword en het hortologie aan die Kaapse Technikon (nou die Cape Peninsula University of Technology (CPUT)) studeer. "As hortoloog het ek altyd belang gestel in bye en nadat ek my eerste swerm in my tuin in Vierlanden in Durbanville gevang het, was ek gaande daaroor," vertel hy.
Rubé en twee vriende wat hy "van altyd af ken", besit saam Pollination Partners, wat bestuiwingsdienste lewer.
Sy gesin is ook betrokke by die byeboerdery. Sy seun, Troy (19), 'n student, help al van skooldae af om in bestuiwingstyd korwe in die Koue- en Warmbokkeveld te gaan aflaai.
"Ons gebruik 'n bakkie met sleepwa, want groot trokke kan nie in die boord ry nie," sê Rubé.
Troy help ook met die oes van heuning, wat nogal 'n groot taak is met dié dat die korwe oral in die Wes-Kaap staan. Troy het ook die aanlyn winkel bestuur, maar sy studies hou hom tans te besig en die winkel is tydelik gesluit.
Sy dogter, Emma (23), wat al op skool heuning verkoop het, help met die etikettering van bottels, asook bemarking en die hantering van markte.
Rubé se vrou, Teresa, hanteer die sosiale media soos Facebook. Sy verkoop ook heuning by haar Three Little Birds-joga- en gesondheidsentrum.
Versorging van die bye
Ten einde heuning van 'n hoë standaard te lewer, pas Rubé sy bye goed op. "Ons beplan vooruit, maar 'n mens kan nie vir alle gebeurlikhede beplan nie - bye is 'n lewende organisme. Ons hou 'n oog op wat in ons korwe gebeur en maak seker daar is genoeg ruimte in die korwe sodat die bye kan heuning maak."
Sy 800 aktiewe byekorwe staan oral in die Wes-Kaap op private eiendom, waaronder in Durbanville, Wellington, Porterville, Ashton, Montagu en in die Overberg.
Die persele bied 'n verskeidenheid voeding vir bye en sluit fynbos, renosterveld, bloekombome en veldblomme in.
"Ons moet lang afstande aflê, maar as ons gaan heuning oes, kyk ons sommer ook hoe dit met die ander korwe gaan," sê hy.
Bestuiwing ook gedoen
Gedurende die lente bied Rubé ook bestuiwingsdienste aan vrugte- en groenteboere in die Wes-Kaap.
"Ons doen bestuiwing van pruime in Robertson, Montagu en in die Ceresvallei in die Koue-Bokkeveld, en appels en pere in die Witzenbergvallei. Ons doen ook bestuiwing vir groentesaad in die Vredendal- en Calvinia-gebied waar spilpuntbesproeiing gedoen word."
Volgens hom is van hierdie kliënte oorsese maatskappye wat die grond gebruik vir die kweek van groentesaad, wat uie en wortels insluit. In die verafgeleë, geïsoleerde gebiede word voorkom dat kruisbestuiwing plaasvind.
Dit is juis hier waar sy heuning van stinkafrikaners vandaan kom wat ook 'n prys verower het. "Ongelukkig het ons g'n enkele bottel daarvan oor nie, dit het van die rakke af gevlieg!" sê hy.
Ter voorbereiding van bestuiwingstyd word die korwe verdeel en soveel as wat nodig is nuwe korwe gereed gekry om aan die aanvraag vir bestuiwingskorwe te voldoen.
"Ek het tans 800 korwe waarvan ons vanjaar 600 vir bestuiwing gaan gebruik. Dit verg goeie beplanning om seker te maak die korwe is sterk genoeg vir doeltreffende bestuiwing."
Die wonder van bye
Hy het hom nog altyd verwonder aan die manier waarop bye saamwerk en goed met mekaar kommunikeer.
"As mense maar soos bye kon wees. Die eerste by help die tweede een om uit die sel te kom en begin dan die nuwe bye voer. Dan word sy 'n begrafnisby wat die korf skoonhou, en daarna 'n veldwerker wat nektar of stuifmeel versamel.
"Hulle werk hulself van 'n larwe van onder af op totdat hulle as werkerbye hulself uiteindelik letterlik doodwerk.
"In die winter werk die bye nie so lank soos in die somer nie en hulle lewensduur is dan ook langer - as hulle aanhoudend werk, gaan hulle vroeg dood."
Rubé is spyt dat hy nie vroeër met bye begin boer het nie. "As ek vroeër begin het, sou ek vandag een van die groter bestuiwingsmaatskappye in die Wes-Kaap bedryf het."
Sy doelwit is om nog meer geskikte voeding op nog plase te kry waar sy korwe veilig sal wees, want vandalisme is byeboere se grootste uitdaging. Hy sal graag wou sien dat meer bloekoms wat nie tot nadeel van die ekologie strek nie, aangeplant word.
"Die Wes-Kaapse byebedryf sal in duie stort as nog meer bloekoms vir die groeiende aanvraag na vuurmaakhout afgekap word."
Voorts moet daar ook meer plante soos salies en basiliekruid aangeplant word wat noodsaaklike byevoeding kan verskaf.
"Harde werk, soos gewoonlik, wat beteken baie ure saam met die bye waarvoor ek soveel bewondering en respek het. En dankbaarheid vir die vloeibare goud wat hulle vir my gee om met almal te kan deel."
- Kontak Rubé by rubeeddy@gmail.com of besoek www.facebook.com/RubeesRawHoney vir meer inligting.

Veelsydigheid
Omdat nie al Rubé se korwe vir bestuiwing gebruik word nie, produseer hy meer heuning.
"Ondervinding het my geleer hoe bye werk: Werkerbye versamel nektar en stuifmeel op verskillende tye van die dag," verduidelik hy.
"In die byebedryf moet jy kies wat jy wil produseer - heuning, stuifmeel of propolis vir medisinale doeleindes. Die bedryf het soveel fasette en baie mense kan daaruit voordeel trek.
"Ek maak nog nie self skoonheidsprodukte nie, maar verkoop groot en klein hoeveelhede was aan mense wat dit wel doen. Die boonste lagie was wat die bye oor die selle vorm, is die suiwerste vorm van was wat vir mediese en farmaseutiese doeleindes gebruik word. Ons was is 100% suiwer."




















