Landbou

Dié program bemagtig agripreneurs

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Earn Agripreneurontwikkelingsprogram se groep studente vier die einde van hul studie by ’n geleentheid van die program.Foto: VERSKAF
Die Earn Agripreneurontwikkelingsprogram se groep studente vier die einde van hul studie by ’n geleentheid van die program.Foto: VERSKAF

Danksy die Enterprising Africa­ Regional Network (Earn) se ontwikkelings­program is 20 jong Suid-Afrikaners slaggereed om hul eie landbou-ondernemings te begin.

Hierdie program bied 'n omvattende kurrikulum wat geskep is om jongmense toe te rus met die nodige tegniese en sakevernuf om hul eie winsgewende, volhoubare en groeigeoriënteerde, kommer­sië­le landbou-ondernemings te ontwikkel.

Nedbank se ontwikkelingsafdeling vir ondernemings en verskaffers het R6,5 miljoen bygedra vir die 20 jongmense se deelname aan die program.

Meer oor die kurrikulum

Die Earn-program se eerste drie maande, die "aktiveerfase", begin met 'n omvattende assessering- en-keuringsproses.

Daarna volg intensiewe vaardigheidsontwikkeling wat aan praktiese sake-ervaring en insig in die tegniese aard van landbousake gewy word. Hierdie deel behels ook opleiding in "beleggingsgereedheid" en die skep van 'n aanvanklike ontwikkelingsplan.

Dié plan sluit in die beoordeling van die grond waarop hulle gevestig sal word, en die toetsing van die grond en water.

Die volgende (en laaste) nege maande van die program staan bekend as die "versnelfase" en dit is wanneer die leerlinge 'n "groeisiklus" voltooi. Die siklus strek oor een seisoen en die studente moet deur middel van indiensopleiding praktiese ondervinding in kommersiële produksie opdoen.

Hulle kry ook praktiese ervaring van plaasbedrywighede, infrastruktuur en geriewe wat nodig is om groei-georiënteerde landbou-ondernemings te bedryf en verkry toegang tot deurlopende afrigting en mentorskap.

Verseker 'n toekoms in landbou

Volgens Kobang Maluleka, be­sturende direkteur by African Greeneurs, die landbou-en-opleidingsfiliaal van Earn, is die or­ganisasie se doelwit om 'n bemagtigende omgewing vir Afrika-entrepreneurs te skep om wins­gewende en volhoubare ondernemings te begin wat streekgewys, nasionaal en internasionaal kan meeding.

"Ons Agripreneur-ontwikkelingsprogram het ten doel om die noodsaaklikheid van voedsel­sekerheid, indiensneming, werkskepping en groei in die ekonomie te takel. Daar is twee aspekte wat die program uniek maak. Ons noukeurige assessering-en-keuringsproses is een.

"Ons glo sterk daaraan om die toekoms van landbou en landbouondernemings te verbeter en dit begin by die identifisering van individue met die potensiaal om 'n impak te maak.

"Die tweede aspek is die uittreestrategie om ons studente 'n ekstra hupstoot te gee. Dié strategie behels na-opleiding-grondplasing, wat help dat leerlinge op hul eie grond gevestig word wanneer hulle die program voltooi en met finansiers, verskaffers, afrigters en mentors verbind word. Hulle kry ook toegang tot verwerkingsinfrastruktuur, markte en logistiek, asook ander steun."

Nirmala Reddy, Nedbank se senior­ bestuurder vir onder­nemings­ontwikkeling, sê hulle soek aktief na geleenthede om gemeenskappe te ondersteun, entrepreneurs te ontwikkel, werkskepping te bevorder en by te dra tot die algehele ontwikkeling van 'n volhoubare en robuuste sosiale struktuur.

"Hierdie inisiatief is een van daardie geleenthede. Met die gebruik van moderne landboumetodes, infrastruktuur en die jongste tegnologie help hierdie omvattende program agripreneurs om opbrengste van hoë gehalte te produseer om inkomste te genereer, werkskepping te aktiveer en by te dra tot die verbetering van hul gemeenskap. Ons is trots om te kan sê dat ons jong leerlinge reeds topgehalte landbouprodukte vir vele van Suid-Afrika se voorste kleinhandelaars produseer."

Maluleka sê die program maak van "slimlandbou" en innovasie gebruik maak om jongmense te lok, terwyl dit ook produktiwiteit, doeltreffendheid en volhoubaarheid verbeter.

"Ons doelwit spreek van ondernemingsgees: Ons beoog om tien agripreneurs per kwartaal op hul eie produktiewe grond te vestig of minstens 40 per jaar.

"Oor vyf jaar sal ons dus 'n minimum van 200 gevestigde agripreneurs hê wat suksesvolle landbou-ondernemings bedryf. As hierdie agripreneurs gemiddeld 50 werkgeleenthede sou skep, sal daar met net een ‘stroom' oor vyf jaar minstens 10 200 gewaarborgde werkgeleenthede in alleenlik primêre landbou geskep word.

"As jy die getal strome verdubbel, verdubbel die getal werkgeleenthede ook. Dit is definitief iets om na te streef."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM