Daar is nog baie skop in die dohnemerinoskaapras. Suzaan Potgieter het by Vaughan Collier, bestuurder van die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika, gaan aanklop om te hoor wat is nuus in die bedryf.

Met sy veeldoelige funksie vir vleis én wol is die dohnemerino 'n skaapras wat baie voordele vir boere inhou.
Boonop pas dié skape maklik aan in 'n verskeidenheid toestande en produksiestelsels, sê Vaughan Collier, bestuurder van die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika.
Collier meen die skape hou baie ander voordele in as net vleis en wol.
"Dohnemerino's verg lae onderhoud omdat hulle onder meer gehard en aanpasbaar is en minder selektiewe weidingsgewoontes het - iets wat die bestuurs- en produksiekoste aansienlik verlaag."
As dit by teling kom, is dié skape se vrugbaarheid aansienlik hoër en die lammers groei vinniger.
"Die veeldoeligheid van dohnes is dat hulle sowel vleis as wol produseer met die karkasse wat 'n lae vetverspreiding en uitstekende graderings het.
Aan die wolkant lewer hulle wol van 'n hoë gehalte."
Nog 'n voordeel van dohne-merino's is hul uitstekende voeromsetting.
Beste telers aangewys
Vroeër vanjaar het die telersgenootskap op sy 58ste jaarvergadering sy bobaastelers vereer.
Dié vergadering het op 21 Februarie in Graaff-Reinet plaasgevind.
Op die dag is afskeid geneem van dr. Kobus Delport, wat 11 jaar lank die bestuurder van die genootskap was. Hy is met die Dohne-Man van die Jaar-prys vereer.
Collier sê daar is streng kriteria in werking om te bepaal wie die streke se toptelers is.
"Van die belangrikste kriteria waarvolgens telers beoordeel word, sluit in noukeurige stoetadministrasie, tydige indiening van data, hoë seleksie-intensiteit, handhawing van goeie reproduksietempo, generasie-interval, getal ramme op vaarlyste en deelname aan aktiwiteite van die genootskap," sê hy.
Die streekwenners in die Nasionale Bobaastelers-kompetisie vir 2023 is as volg:
- FEM Dohnes by Burgersdorp (Oos-Kaap, streek 1);
- Lowmar Dohnes by Cradock (Karoo, streek 2);
- Weska Dohnes by Bredasdorp (Suid-Kaap, streek 3);
- Mullersvlei Dohnes by Calvinia en Terra Vino Dohnes by Universiteit Stellenbosch (Wes-Kaap, streek 4),
- All-In-One Crux Dohnes by Edenburg (Vrystaat, streek 5); en
- Pleasant View Dohnes by Swartberg (KwaZulu-Natal, streek 6).
85 jaar van dohnemerino's
In Suid-Afrika word daar al sedert 1939 met dohnemerino's geteel, maar die werk is nog lank nie klaar nie.
Volgens Collier vervul die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika 'n belangrike opvoedkundige rol.
Onder hierdie vaandel is daar verskeie kursusse wat hulle aanbied om kennis oor dié skaapras te deel.
Hier volg die kursusse vir die res van 2024.
Hoofkursusse:
- 5-7 Junie: Universiteit Stellenbosch, Elsenburg-landboukollege en Mariendahl-proefplaas.
Studentekursusse:
- 12 Julie: Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT), Bloemfontein.
- 23-24 Julie: Grootfontein Landboukollege, Middelburg.
- 14-15 Aug: Universiteit van die Vrystaat (UV), Bloemfontein.
As jy wil deel wees van een van die kursusse, stuur 'n e-pos met jou navraag na manager@ dohne-merino.org.
- Besoek dohnemerino.com vir nog inligting.

Nuwe man aan die stuur van sake
Vaughan Collier het in Maart die leisels as bestuurder van die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika oorgeneem.
Collier was sedert Maart 2023 die assistentbestuurder van die genootskap.
Hy is 'n boorling uit die Colesberg-omgewing waar hy die afgelope paar jaar op die familieplaas boer.
Dit is ook van hier waar hy die bedryf van 'n meer sentrale punt wil bedien.
Collier het aan die Hoër Landbouskool Marlow gematrikuleer, waarna hy die graad BAgric in 2007 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het.
Voorheen was hy verbonde aan BKB, waar hy tussen 2009 en 2013 die vee-adviseur was.
Gedurende hierdie tydperk het hy ook gekwalifiseer as inspekteur van verskeie skaaprasse, wat insluit dorpers, dormers, SA vleismerino's, SA landskaap, merino's en dohnemerino's.
Alle oë op 2026
Die Dohnemerinotelersgenootskap is hard aan die beplan aan die dohnemerino-wêreldkongres wat oor twee jaar op eie bodem aangebied word.
Hierdie kongres sal saam met Nampo Kaap 2026 plaasvind en sal ook 'n viering van die genootskap se 60ste bestaansjaar wees.



Halfeeu van sukses vir dié stoeterye
Vanjaar is 'n merkwaardige mylpaal vir twee dohnemerino-telers in die Wes-Kaap wat 50 jaar se stoetteling vier.
Die Terra Vino Dohnestoet van die Universiteit Stellenbosch het sy ontstaan gehad danksy 'n skenking van 81 ooie deur telers van die Dohnemerinotelersgenootskap in 1974.
Die hoofdoel was om die stoet te gebruik vir navorsing sowel as opleiding van studente.
Hierdie dohne-stoet is aanvanklik deur dr. Willie Smit en later deur dr. Jasper Coetzee bestuur. Tans is John Morris aan die stuur van sake.
Terra Vino Dohne was 'n streekwenner in die 2023 Nasionale Bobaasteler-kompetisie.
Terra Vino se 48ste produksieveiling word op 18 Julie gehou.
Weska Dohnes is in bedryf in Bredasdorp.
Doelgerigte teling en goeie ondersteuning aan die bedryf maak van Weska Dohnes een van Suid Afrika se bekendste stoeterye - hulle is immers die verdedigende kampioen in die Nasionale Bobaasteler-kompetisie waar hulle ook weer as streekwenner aangewys is.
Weska Dohnes se jaarlikse produksieveiling vind op 26 Julie plaas.
Het jy geweet?
Dohnemerino's bied baie doeltreffende produksie wat die volgende insluit:
- Dohne-ooie produseer tussen 7 en 13 lammers in hul leeftyd;
- Van die top Dohne-ooie produseer lammers tot soveel as 70% van hul eie liggaamsmassa;
- 'n Dohne-boerdery het geen kruisteling nodig nie; en
- Dohnes is baie gewild by voerkrale, wat 'n 'n premie van 5% vir dohne-lammers betaal.














