Landbou

Dutoit optimaliseer elke vlak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Dutoit-groep maak gebruik van gevorderde besproeiingsmonitors sodat geen water vermors word nie. Foto: VERSKAF
Die Dutoit-groep maak gebruik van gevorderde besproeiingsmonitors sodat geen water vermors word nie. Foto: VERSKAF

Oor die jare het landbou baie getransformeer met die gebruik van tegnologie wat doeltreffendheid, produktiwiteit, volhoubaarheid en gehalte kan verbeter.

Die Dutoit-groep, wat onlangs sy 130ste bestaansjaar gevier het, het die afgelope vyf jaar intensief navorsing gedoen en met innoverende maatskappye saamgewerk om die mees invloedryke tegnologieë vir hul pit- en steenvrugproduksie te identifiseer.

Willie Kotze, die Dutoit-groep se tegniese bestuurder, deel meer oor die stelsels wat hulle in werking gestel het.

Satelliet- en hommeltuig-tegnologie

Dutoit se gebruik van satelliet- en hommeltuigbeelde het boordbestuur verbeter deur variasies in blaredakgroei en vrugte-eenvormigheid te identifiseer.

Hierdie datagedrewe benadering maak presiese ingrypings moontlik wat beter vruggehalte en bergbaarheid verseker.

GPS-toegeruste kunsmis­strooi­ers verbeter verder gewasvoeding, pas voedingstofbestuur aan spesifieke boordsones aan en verminder oor- of onderbemesting.

Besproeiingsmonitering vir beter watergebruik

Om water, een van ons kosbaarste hulpbronne, te bewaar, het Dutoit die volhoubare gebruik daarvan geprioritiseer.

Hulle maak gebruik van gevorderde besproeiingsmonitors en -meters, asook intydse data van weerstasies en veldtoetse om presiese waterbestuur moontlik te maak.

Dit verseker dat elke druppel doeltreffend gebruik word, wat besproeiing in die pas bring met die unieke behoeftes van verskillende boordsones.

Innoverende sensors vir presisieboerdery

Dutoit maak gebruik van die nuutste sensors vir vruggroei, blare en grondontleding, en gebruik dan GPS-tegnologie om presiese plekke om monsters te neem te verseker.

'n Nuwe projek wat geo-merkingvan kratte op die plaas behels, stel Dutoit in staat om vrugte terug te spoor na hul spesifieke boordplek, wat die impak van enige ná-oes-kwessies minimaliseer.

Gebruik van data vir ingeligte besluitneming

Vir Dutoit is dit 'n fokuspunt om die verskillende tegnologieë tot 'n enkele platform te integreer. Deur die verskillende datastelsels met mekaar te laat kommunikeer, kan Dutoit groot data (big data) gebruik vir meer akkurate ontleding en beter besluitneming.

Minder vrugverlies, meer gehalte

Om kneusing tydens hul oes en vervoer te verminder, het Dutoit saam met Hortgro gewerk om innoverende oplossings soos Fruitguard-bakvoerings en verbeterde vervoermetodes te toets.

Hierdie maatreëls verminder eksterne skokke aansienlik en verseker dat die hoogste gehalte van vars produkte gelewer word.

Beskerming van gewasse

Om die gehalte van vrugte te verseker, is dit belangrik om weer- en omgewingsfaktore in ag te neem. Dutoit het in gespesialiseerde strukture belê, veral vir kersieboorde, om dit teen reën, hael en suboptimale wintertoestande te beskerm.

Hierdie strukture beskerm nie net die vrugte nie, maar help ook om die mikroklimaat binne die boorde te bestuur.

Variëteit-evaluasies vir opbrengs en gehalte

Dutoit evalueer noukeurig nuwe kultivars en versamel belangrike data oor boomgroei, vruggehalte en ná-oesbergbaarheid. Hierdie datagedrewe be­nadering verseker dat die beste variëteite vir elke mikroklimaat gekies word, wat bydra tot hul sukses om gehalteprodukte te lewer.

Innovasie en verbintenis tot volhoubaarheid

Volgens Kotze het hul beleggings in tegnologie aansienlike voordele tot hul gehalte, koste-doeltreffendheid en volhoubaarheid gehad.

Die gebruik van verskillende soorte tegnologie stel Dutoit in staat om voedselvermorsing te verminder en proaktief in hul bedrywighede te bly.

Hierdie verbintenis tot innovasie en toegang tot meer gevorderde en intydse data hou Dutoit aan die voorpunt van moderne landbou.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM